AfriForum-buurtwagte skerp gebeurlikheidsplan op


AfriForum se Oos-Moot- en Moot-buurtwag het op 27 Junie 2019 ’n gebeurlikheidsplan teen geweldmisdaad gesamentlik ingeoefen.

Tydens hierdie oefening het buurtwaglede hulself as verdagtes voorgedoen en in ’n gebied gaan wegkruip, terwyl die res van die buurtwaglede die gebied te voet en via voertuigpatrollies deursoek het.
Hoewel hierdie slegs ’n inoefening was, dra dit steeds by tot bewusmaking en verbeterde sigbaarheid in die gemeenskap. AfriForum se buurtwagte is hier om ’n verskil te maak deur gemeenskappe by te staan, as oë en ore op te tree en sodoende die SAPD te ondersteun.

“AfriForum se Oos-Moot-buurtwag wil graag alle deelnemers bedank vir hulle aandeel in hierdie belangrike optrede. Dit bly ’n voorreg om te sien hoe die selfdoenenergie in die gemeenskap verbeter – die ondersteuning en voordele wat AfriForum bied skep hoop en vertroue en met aksies soos hierdie kan ons tree vir tree begin saamstaan om ons geliefdes te beveilig. Ons leer baie uit hierdie tipe oefeninge en sal voortgaan om gereeld soortgelyke aksies te hou om ons gemeenskap binne die raamwerk van die wet weerbaar te maak,” sê Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag.
“Hierdie tipe oefeninge bevorder samewerking en skerp die gemeenskap se weerbaarheid op. Volgehoue inoefening moet gereeld plaasvind om te verseker dat buurtwaglede die gemeenskap binne die raamwerk van die wet kan bystaan,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings