|

Jeug maak speel-speel groot verskil met opknappings by Laerskool Swartkops

Bewapen met verfkwaste, grassnyers en tonne energie – dís hoe AfriForum se Port Elizabeth-jeugtak ingespring het om ’n omvattende opknappingsprojek by Laerskool Swartkops aan te pak en sodoende terug te ploeg in nóg ’n generasie jongmense. Hierdie projek, wat op 20 Julie aangepak is, was gemik op die verbetering van uiteenlopende fasiliteite by dié skool.

Volgens Wikus van der Walt, AfriForum Jeug-beampte vir strukture, is daar tydens hierdie projek onder meer gras gesny, die klippie-hink (“hopscotch”)-baan is oorgeverf, vullis op en om die skoolterrein is opgeruim en ’n nuwe netbalnet is geïnstalleer. Die jeugtak het ook netbal- en sokkerballe aan die skool geskenk. 

“Ons het met hierdie opknapping veral gefokus op spelelemente by die skool, juis omdat speel so ’n noodsaaklike element in die vorming van kinders se welstand, selfvertroue en leervermoë is,” verduidelik Van der Walt.

“Met hierdie projek beklemtoon AfriForum Jeug ook sy verbintenis tot die burgerregteorganisasie se selfdoenbenadering en die vestiging van gemeenskappe wat bereid is om self moue op te rol en ’n daadwerklike verskil in hul direkte omgewing te maak,” voeg hy by.

AfriForum se Port Elizabeth-jeugtak beoog om hul werksaamhede verder uit te brei en op allerlei maniere terug te ploeg in die jeug en die breër gemeenskap.

Soortgelyke plasings