|

Mooirivier-buurtwagte hou hul gemeenskappe veilig in November

Die AfriForum-buurtwagte in Mooirivier het in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hul onderskeie omgewings in November veilig gehou. Daar is meer as 400 patrollies deur die volgende buurtwagte gery: Sasolburg, Hartbeesfontein-buurt- en -plaaswag, Potchefstroom, Songloed (Klerksdorp), Wolmaransstad, Ventersdorp, Bothaville en Stilfontein.

In Sasolburg is daar ’n oorgrenspatrollie gehou. Die Hartbeesfontein-plaaswag het vermiste skape, trekkerbatterye en 60 liter diesel teruggevind. Hulle het ook saam met die SAPD en ander instansies vermeende gewapende rowers gevang wat ook vir moord gesoek is. In Potchefstroom is daar geen noemenswaardige voorvalle gerapporteer nie wat ’n aanduiding daarvan is dat die sigbaarheid van die buurtwag vrugte afwerp. Die Stilfontein-buurtwag het verdagtes gearresteer vir koperdiefstal en diefstal van lyndraadpale.

Die Hartbeesfontein-buurtwag het die SAPD gehelp om verkeer te reguleer tydens motorongelukke, ’n arrestasie vir betreding by Senwes se silo’s is uitgevoer terwyl nog vier persone in hegtenis geneem is vir die besit van gesteelde goedere. Hulle het ook tydens ’n padblokkade saam met die SAPD R14 000 se boetes uitgereik. Die Songloed-buurtwag het hulp verleen tydens ’n gewapende roof en ook ’n noodgroep gestig vir die inwoners. Hulle maak ook Leemhuisstraat skoon sodat dit veiliger is. Die Bothaville-buurtwag het verdagtes gearresteer wat ligte van mure af steel asook verdagtes wat by ’n kerk en huis ingebreek het. Intussen het hierdie buurtwag ook gesteelde goedere teruggevind. Ventersdorp se buurtwag werk saam met die SAPD en reageer dikwels op noodoproepe. In Wolmaransstad was daar ook nie noemenswaardige voorvalle nie.

Daar is ’n nuwe buurtwag in Deneysville gestig wat reeds besig is om patrollies te doen.

“Die Mooirivier-buurtwagte doen uitstekende werk in hul onderskeie gemeenskappe om inwoners veilig te hou. Daar sal gedurende die vakansie meer tyd aan veiligheid en patrollies afgestaan word om misdaad in hierdie tydperk hok te slaan,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings