Kaapse droogte: AfriForum help Hoërskool Overvaal om water te vervoer


AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag het Hoërskool Overvaal in Vereeniging op 21 Februarie gehelp om water wat hulle ingesamel het vir die Wes-Kaapse waterkrisis na dié droogtegeteisterde gebied te vervoer.
Die water is vanaf die skool na Water Shortage South Africa (WSSA) se afsetpunt in Vereeniging vervoer, vanwaar dit dan na die Wes-Kaap vervoer sal word.
Hierdie inisiatief is deur Hoërskool Overvaal in samewerking met Eureka-skool, Laerskool Vryheidsmonument en Kompas Kleuterakademie geloods.

“Hoërskool Overvaal glo daarin om die gemeenskap te dien deur by talle liefdadigheidsaksies betrokke te wees. Wie gee, sal ook ontvang. Hierdie stelling is onwrikbaar bewys toe die gemeenskap die skool aan die begin van 2018 gedurende die hofsaak, opstand en dreigemente waaronder die skool gebuk gegaan het, ondersteun het. Woorde van ondersteuning en gebede van voorspoed vir Hoërskool Overvaal het ook uit die Wes-Kaap gestroom. Daarom het die skool besluit om dié waterprojek, in samewerking met AfriForum, van stapel te stuur. Sowel drinkwater as water vir huishoudelike gebruik is ingesamel en sal in die Kaap afgelewer word om die nood te help verlig. Hoërskool Overvaal bedank elke individu en instansie vir hul ondersteuning van hierdie projek,” sê Schalk Rabie, skoolhoof van Hoërskool Overvaal.

Soortgelyke plasings