|

Kaapstad-Noord-tak bied klasse in selfverdediging aan vir onderwysers

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het oor die naweek van 22 en 23 Julie klasse in selfverdediging aangebied vir die onderwysers van die Herbert Street Special School in Bellville.

Dit volg nadat dié skool deur misdadigers geteiken is en ’n gewapende rooftog moes deurmaak. Van die onderwysers het selfs doodsdreigemente ontvang en moes seksuele dreigemente  teen hulle aanhoor.

Yolanda Fritz, ’n lid van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak, het hiervan te hore gekom en besluit om soggens en smiddae by die skool verby te ry om sigbaarheid te verhoog en seker te maak alles is in orde. “Dit is nie reg dat leerders en onderwysers in vrees moet skool toe gaan nie,” sê Fritz

’n Plaaslike sekuriteitsmaatskappy, Civil Defence Force (CDF Security), het aangebied om die alarm- en kamerastelsel op hul onkoste op te gradeer. Fritz het die inisiatief geneem om te reël dat selfverdedigingsklasse vir dié onderwysers aangebied word. Die tak het die onderwyseresse in samewerking met JP Muller van COBRA Self-Defense opgelei om weerstand te bied sodat hulle hulself en die leerders kan verdedig.

“Die dames het na die tyd met baie meer selfvertroue en paraatheid weggestap en was dankbaar vir dié geleentheid. Die Kaapstad-Noord-tak wil Baruch Church in Bellville bedank vir die gebruik van hul perseel. Ons besef dat veiligheid ’n leefwyse moet wees, maar dit bly hartseer dat ons kinders nie eens meer veilig kan skoolgaan nie en dat onderwysers noodgedwonge hulself moet kan verdedig. Skole is vir ons belangrik, daarom het AfriForum ook ’n skoleveiligheidsgids wat skole in staat stel om te verseker dat hulle oor die nodige en korrekte veiligheidsmaatreëls beskik sodat die skool, leerders en onderwysers voorbereid en veilig kan wees in ’n noodsituasie,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus.

Die tak moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Kontak Johan Crous by 081 217 0150.

Soortgelyke plasings