|

AfriForum se buurt- en plaaswagte simuleer plaasaanval en gyselaarbevryding

AfriForum se Herald-plaaswag het op 21 Julie ’n simulasie van ’n plaasaanval en gyselaarbevryding aangebied. Die oefening was praktiese opleiding vir plaas- en buurtwagte sodat hulle tydens ’n plaasaanval doeltreffend, georganiseerd en gedissiplineerd kan reageer.

Die operasie het bestaan uit die taktiese ontruiming van ʼn huis deur die volgende protospanne: Waboomskraal, Zebra en Herald. Ten tye van die oefening het dié spanne ’n “gyselaar” bevry en die huis beveilig.

Lugbystand is ook deur ’n hommeltuig aan die taktiese spanne verleen. Dié geleentheid is deur die Herald-plaaswag saamgestel en uitgevoer om samewerking tussen die verskillende veiligheidstrukture in die omgewing te bewerkstellig. “Ons weet ons kan nie noodwendig insidente voorkom nie, maar hierdeur kan ons leer hoe om dit te hanteer. Hierdie is die eerste van vele simulasies en ons beplan om gereeld verskillende scenario’s te simuleer om voorbereid te wees om doeltreffend op te tree, slagoffers uit die situasie te verwyder en die toneel klinies aan owerhede te oorhandig,” sê Gus du Toit, leier van die Herald-plaaswag.

“Plaasaanvalle neem sedert April vanjaar al hoe meer toe in die Suid-Kaap, daarom is dit van kardinale belang dat ons lede opgelei en voorbereid is. Geen gemeenskap is veilig as daar nie kommunikasie en samewerking is nie. Saam is ons sterker,” sê Dian Heyns, leier van die Herald-plaaswag.

Hierdie oefening het as voorbereiding gedien om op 9 September in samewerking met Generaal-majoor Roland de Vries ’n gebeurlikheidsplan vir die groter George-omgewing op te stel. Dié tak nooi al die veiligheidstrukture in die George-omgewing uit om by dié geleentheid insette te lewer en deel te neem aan die beplanning. Later in die jaar beplan dié tak ook ’n werksessie saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om insette van hulle en ander relevante rolspelers te kry.

“Ons moet daadwerklik teen misdaad optree. Almal is dit eens dat die situasie daagliks versleg, en dit beklemtoon hoe belangrik dit is om onsself te beveilig,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Vir meer inligting, of om betrokke te raak kontak gerus vir Marthinus Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings