|

Keelvol-Amerikaners het vir Trump gestem

 

Die laagste stempersentasie in tien jaar, groter steun van minderhede, lae deelname van studente aan die verkiesing en ’n skuif in die stem van die werkersklas is van die belangrikste redes waarom Donald Trump die VSA se nuwe president geword het.

Jaco Kleynhans, ’n politieke ontleder en kenner van die Amerikaanse politiek, het vandag tydens ’n blitsseminaar by AfriForum verduidelik waarom Trump se oorwinning regoor die wêreld so ’n groot verrassing was.

Kleynhans het verduidelik dat die persepsie verkeerd was dat gewone mense op die platteland in enorme getalle vir Trump gaan stem het. Die werklikheid is dat 22% van mense op die platteland en 78% van stedelinge en mense in voorstedelike gebiede hul stem vir hom uitgebring het. Trump het nasionaal die verkiesing verloor, maar gewen in state waar dit saak maak.

Ander interessante statistieke rondom die verkiesing is dat 8% van swart mense en 67% van wit mense vir hom gestem het. Mans bo 65 jaar het ook in reuse getalle vir hom gestem asook mense uit die werkersklas.

As gekyk word na redes waarom Trump nié moes gewen het nie, is daar verskeie soos die verandering in die demografie van die Amerikaanse bevolking waar daar ’n afname in wit mense is. Voorts het Trump nie ’n persoonlike verhaal wat daarop dui dat hy presidentsmateriaal is nie. Hy was ook in aanloop tot die verkiesing in omstredenheid gedompel en sy veldtog is gekenmerk deur chaos en disorganisasie.

Voorts het die media ’n volskaalse stryd teen hom gevoer wat klaarblyklik daartoe gelei het dat talle kiesers ook om dié rede juis vir hom gaan stem het.
Kleynhans meen Trump het ook gewen omdat Hillary Clinton nie daarin kom slaag om Amerikaners met haar boodskap te inspireer nie. “Die kiesers het met hul stem gewys dat daar ’n intense belangstelling in die beloftes is wat Trump gemaak het en dat die VSA gereed vir verandering is.”

Kleynhans het ’n paar voorspellings gewaag oor hoe die VSA in die toekoms daar kan uitsien met die Republikeine aan die stuur.

Hy meen die VSA gaan verbeter, Trump gaan goeie aanstellings in sy kabinet maak en die regering sal soos ’n besigheid bestuur word. Die heining tussen Mexiko en die VSA gaan opgerig word en streng immigrasiewetgewing gaan volg. Alle vryhandel-ooreenkomste gaan herbedink word en Trump gaan fokus op sy “proteksionistiese” benadering wat voorkeur aan plaaslike ondernemings se produkte in die VSA gaan gee. Die verhouding met China kan gespanne raak, terwyl die verhouding met Rusland ook beslis sal verander.

Kleynhans het voorts gesê die VSA se begroting gaan vir sake soos onderwys en die weermag gesny word en belasting sal verlaag word.
Die VSA gaan sonder twyfel radikaal verander.

Soortgelyke plasings