| |

Khampepe-verslag oor rassisme by US – Afrikaanssprekendes se taalregte kan nie die prys betaal vir enkelinge se wangedrag nie

AfriForum het, met verwysing na die finale verslag van die kommissie van ondersoek na rassisme by die Universiteit van Stellenbosch (US) onder die voorsitterskap van emeritus regter Sisi Khampepe verklaar dat Afrikaanssprekendes se taalregte nie van hulle ontneem kan word in reaksie op die wangedrag van enkelinge nie.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is dit besonder kommerwekkend dat die gebruik van ’n taal verantwoordelik gehou kan word vir uiteenlopende gedragsprobleme en persepsies op die kampus. “Groot gewag word gemaak van die gevoel van uitsluiting wat nie-Afrikaanssprekende studente en personeel ervaar – selfs wanneer die taal in informele gesprekke gebruik word. Wat van die bruin, swart en wit Afrikaanssprekende studente en personeel se gevoel van uitsluiting wanneer hulle nie hulle taal mag gebruik nie? Let wel dat Stellenbosch een van net twee uit meer as dertig kampusse van openbare universiteite in die land is waar Afrikaans nog enigsins ’n noembare rol as onderrigtaal speel, en dit in ’n provinsie waar dit die moedertaal van die meerderheid inwoners is. Hierdie Afrikaanssprekende studente het dus nie alternatiewe openbare instellings wat hulle sal akkommodeer wanneer hulle uitgesluit word op grond van hulle taal nie,” sê Bailey.

Die verslag se aanbevelings oor taal is breedsprakig, beginnende by die stelling dat Engels die taal van voorkeur by die universiteit is om inklusiwiteit te bevorder. Die feit dat die universiteit ’n veeltalige taalbeleid het, kom dan onder die skoot met die gelaaide stelling: “I recommend that the University consider reviewing and revisiting its language policy to remove the possibility of language exclusion through the preference of Afrikaans”. Let wel dat die gebruik van enige ander taal wat as uitsluitend ervaar mag word, glad nie eens oorweeg of genoem word nie. Daar word dan bygevoeg dat die universiteit studente nie moet ontneem van hulle reg tot studie in Afrikaans nie, tensy daar “gepaste regverdiging” daarvoor is. Die term “gepaste regverdiging” is só vaag en breed dat enige motivering gebruik kan word om summier die reg tot moedertaalonderrig van Afrikaanse studente te ontneem – in teenstelling met wat in die Grondwet gewaarborg word.

“Weer word die koste-argument bygesleep, hoewel al male sonder tal bewys gelewer is dat die voordele van veeltalige onderrig en toegang tot moedertaalonderrig by verre swaarder weeg as die koste. Jaarliks staak ’n uiters hoë persentasie studente hulle studies en die rol wat die gebrek aan moedertaalonderrig in dié verband speel, word nooit in geldwaarde bereken nie,” meen Bailey.

“Ideoloë gebruik Afrikaans as lat om een gemeenskap by te kom ten koste van die land as geheel se belange. Hulle buit die onaanvaarbare gedrag van enkelinge uit om ’n hele gemeenskap te definieer. Verder word moedertaalonderrig op alle vlakke toenemend die voorreg van die minder as 10% Engelssprekendes in die land, terwyl Afrikaans aaneen afgeskaal word en ander inheemse tale se gebruik bedroewend beperk bly. Ouers, leerders en studente kry weinig voorligting oor die noodsaak van moedertaalonderrig en word die leuen gevoer dat eentalige Engelse onderrig die grootste akademiese, ekonomiese en maatskaplike voordele inhou.

“Privaat onderriginstellings is tans die enigste hoop op ’n volhoubare akademiese toekoms vir inheemse tale, insluitend Afrikaans – ’n tragedie en skande in hierdie land met sy ryk kulturele diversiteit. Reaksie op die verslag sal dopgehou word om te bepaal watter verdere stappe moet volg,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings