|

AfriForum en Winburgse landbou-unie span kragte saam: Verlig nood ná verwoestende brande

AfriForum en die Winburg-distrikslandbou-unie (WDLU) het onlangs kragte saamgesnoer om die nood onder die boerderygemeenskappe van Brandfort, Theunissen, Winburg, Senekal en Marquard te help verlig. Dié gemeenskappe is in September en Oktober lamgelê deur verwoestende brande wat duisende hektaar se weiding verwoes en tot die vrektes van groot hoeveelhede vee en wild in dié gebied gelei het. In dié aksie het AfriForum en die WDLU saamgespan om 315 bale veevoer by aangewese punte afgelaai. AfriForum het nagenoeg R45 000 tot dié aksie bygedra vir die aflewering van die voer. 

Volgens Johnny Haupt, voorsitter van AfriForum se Winburg-tak, hoop die betrokke organisasies om met hierdie aksie toe te sien dat die beskikbare hulpbronne – wat nou so nodig is in hierdie gemeenskappe – doeltreffend versprei en aangewend word. “Deur van die vervoerkoste vir die aflewering van voer te dek, hoop ons om die las te verlig op boere en gemeenskapslede wat met die nagevolge van hierdie brande worstel. Hierdie boere het soveel meer nodig as net geld, maar elke bietjie help,” verduidelik Haupt.

AfriForum se Winburg-tak doen ’n beroep op individue en besighede om dié en soortgelyke projekte van die Winburg-tak te ondersteun (deur middel van finansiële steun of om as vrywilliger betrokke te raak). “’n Gemeenskap wat saamstaan, kan ’n sterker en meer veerkragtige toekoms vir Winburg en sy omgewing bou – saam is ons sterker,” sluit Haupt af.

Soortgelyke plasings