|

Klerksdorp se Songloed-buurtwag herstel straatligte as deel van #OnsDorp-projek

AfriForum se Songloed-buurtwag en werkernemers van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit het op 29 Oktober ’n groot verskil in Songloed en Elandsheuwel gemaak deur ’n aantal straatligte te herstel. Misdaad in die area het toegeneem as gevolg van straatligte wat nie werk nie en die gebied in donkerte hul.

Die munisipaliteit het onderdele en toerusting voorsien en met die hulp van die buurtwaglede en ander inwoners is daar aan 54 straatligte in Elandsheuwel- en Loganstraat gewerk. Al die ligte kon egter nie dadelik herstel word nie as gevolg van kabeldiefstal en ander foute. Daar sal later weer hieraan aandag gegee word.

Die buurtwagleier in Songloed, Romke de Jongh, is oortuig daarvan dat die beter beligting sal help dat misdaad in die area afneem. Daar word beplan om hierdie projek na ander woonbuurte uit te brei aangesien veiligheid ’n prioriteit is.

“Ek is baie dankbaar vir die amptenare van die munisipaliteit se elektrisiteitsdepartement. Hierdie samewerking kan bevorderlik wees vir die instandhouding van ons stad se infrastruktuur,” sê Frans Roos, voorsitter van die Klerksdorp-tak.

“Hierdie is ’n baie goeie inisiatief van AfriForum se Songloed-buurtwag. Swak beligting van strate is ’n wesenlike probleem en dra by tot onveiligheid. Dit is verblydend dat die munisipaliteit ook hulle deel doen. Ek glo dat hierdie projek ’n groot verskil gaan maak, veral aan die veiligheidsituasie,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Inwoners wat wil deelneem en bydra of soortgelyke straatligprojekte in hulle woongebiede wil organiseer, kan vir Romke de Jongh by 074 429 7777 kontak.

Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings