|

Hooggeregshof wys Malema en EFF se aansoek om verlof tot appèl in AfriForum-grondbesettingsaak met koste van die hand

Die Hooggeregshof in Pretoria het vandag Julius Malema en die EFF se aansoek om verlof tot appèl teen ’n interdik wat AfriForum in 2017 bekom het, van die hand gewys. Hierdie interdik het Julius Malema en die EFF verbied om mense aan te hits om private eiendom te betree en dit onwettig te beset. Die hof het ook gelas dat Malema en die EFF AfriForum se koste moet betaal.

Met hierdie uitspraak het regter P.M. Mabuse ’n vroeëre uitspraak van die Konstitusionele Hof bekragtig en daarop gesteun, dié uitspraak het die ongrondwetlikheid van aanhitsing tot betreding van private eiendom en die ernstige kriminele aard van enige aanhitsing om eienaars van private eiendom of die reg op private eiendom in gevaar te stel, beklemtoon.

“Hierdie uitspraak is ’n groot oorwinning vir private eiendomsreg en ’n groot slag vir diegene wat misdadigheid, geweld of wetteloosheid wil aanhits,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“AfriForum verwelkom regter Mabuse se uitspraak wat die nodige klem lê op die ernstige kriminele aard van die aanhitsing van mense om privaat eiendom te betree en onwettig te beset,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings