|

Kollig by VN op plaasmoorde en rassewetgewing geplaas

Afgevaardigdes van AfriForum en Solidariteit was vandeesweek voor die Verenigde Nasies (VN) in Genève, Switserland, oor onder meer plaasmoorde en rassewette in Suid-Afrika.

AfriForum en Solidariteit het voorleggings voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) gemaak en AfriForum het ook voor die VN se Forum oor Minderheidskwessie verskyn.

AfriForum het vir die organisasie se voorlegging by CERD ’n gedetailleerde verslag oor die Suid-Afrikaanse (SA) regering se meer as 116 stukke rassewetgewing ingedien. Dit is vanjaar die regering se beurt om sy rekord oor diskriminasie te laat hersien en die organisasie se voorlegging en verslag sal oorweeg en gebruik word wanneer die hersieningskomitee die SA-regering se rekord hersien.

“CERD het sy dankbaarheid uitgespreek oor AfriForum se bydraes tot die hersieningsproses van Suid-Afrika, veral die regering, rakende diskriminasie. Organisasies soos AfriForum staan aan die spits van die poging om die ANC se rasobsessie aan die groot klok te hang,” sê Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekking.

CERD het die SA-regering ook vir die hersieningsproses met betrekking tot diskriminasie ondervra oor plaasmoorde, rassekwotas en die “Kill the Boer”-dreunsang.

Régine Esseneme, ’n CERD-komiteelid, het op die eerste dag van hierdie sessies die Suid-Afrikaanse regeringsafvaardiging gevra oor plaasmoorde, haatspraak wat bydra tot plaasaanvalle, plaasmoordontkenning deur Julius Malema, en wat gedoen word om hierdie kwessies die hoof te bied. Brendin Horner se wrede moord is spesifiek as voorbeeld genoem.

Ronald Lamola, minister vir Justisie en Korrektiewe Dienste, het volgehou dat plaasaanvalle as ’n gewone geweldsmisdaad beskou word en hy het ongelykheid blameer as die dryfveer vir plaasaanvalle. Mxolisi Nkosi, die ambassadeur en permanente verteenwoordiger van Suid-Afrika by die Verenigde Nasies in Genève, het Lamola se verduideliking ondersteun.

Esseneme het hierop geantwoord dat daar minstens twee gevalle van plaasmoorde is, wat AfriForum in sy 2022-verslag noem wat by CERD ingedien is, wat direk verband hou met die sing van “Kill the Boer”.

Verskeie komiteelede het ook vrae gehad oor rassekwotas in sport en volgens Van Zyl is die feit dat die VN nou vrae oor plaasmoorde, “Kill the Boer” en rassekwotas aan die Suid-Afrikaanse regering begin vra, van die vrugte van AfriForum en Solidariteit se volgehoue internasionale bewusmakingsveldtogte.

Ná Solidariteit en die SA-regering vroeër vanjaar ’n ooreenkoms aangegaan het oor rassewette, het dié vakbond die VN gevra dat rassewette nie geïmplementeer moet word nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die regering se obsessie met rasverteenwoordiging veroorsaak dat Suid-Afrika se rasseprogram permanent is. Die stryd tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering by die VN duur al sedert 2016. Solidariteit het toe reeds aangevoer dat die regering die VN-konvensie oortree.

Tydens die 16de sessie van die Verenigde Nasies (VN) se Forum oor Minderheidskwessies, het AfriForum die voortdurende voorvalle van diskriminasie en haatspraak teen minderhede in Suid-Afrika onder die aandag van dié forum gebring. Dit sluit voorvalle in soos die sing van die dreunsang “Kill the Boer” deur hoëprofielpolitici; die Suid-Afrikaanse regering se beplande uitsluiting van wit boere van tariefvrye landbou-uitvoere na die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk indien hulle nie aan sekere rassekriteria voldoen nie; en die toepassing van ras as voorwaarde vir watergebruiklisensie-aansoeke.

AfriForum se bevindinge wat in die organisasie se voorlegging en verslae uitgelig word, het baie belangstelling onder die verteenwoordigers by die Minderheidsforum gelok, aldus Van Zyl.

“Met nog ’n suksesvolle internasionale veldtog agter die rug, sal AfriForum nou sy primêre strategie voortsit om staatsbestande, gemeenskapsgebaseerde oplossings in Suid-Afrika verder te vestig en uit te brei,” sê Van Zyl.

Soortgelyke plasings