|

Kundiges verheug oor hofuitspraak rondom UV-taalbeleid

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit het die uitspraak van die hooggeregshof in Bloemfontein, wat die senaat- en raadsbesluit oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ter syde stel, as ʼn oorwinning vir Afrikaans, Afrikaanssprekendes en die taalregte van Suid-Afrikaners in die algemeen bestempel.

As die UV-besluite gehandhaaf sou word, sou Afrikaans nie meer in 2017 as onderrigmedium by die UV gebruik word nie. Dit sou net in enkele opvoedkunde- en teologiekursusse gebruik word. Ingevolge die hofuitspraak behou Afrikaans dus sy huidige posisie as onderrigmedium.

In die saak, wat op 20 Junie 2016 aangehoor is, het dit duidelik geword dat die universiteitsbestuur geen oorweging aan die bepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet gegee het nie, maar eerder die knie voor anargie gebuig het en in die proses ʼn politieke spel as ’n taalkwessie vermom het.

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit het in ’n verklaring gesê die uitfasering van Afrikaans as onderrigmedium sou die regte van dié instellings se ledekorpse, wat uit Afrikaanssprekende studente, voornemende studente, hulle ouers en werknemers van die universiteit bestaan, ingrypend raak.

Die organisasies verwelkom dit dat die reg tot moedertaalonderrig deur die hof beskerm is.

Volgens die organisasies is die toenemende verengelsing op universiteitsvlak nie alleen uit pas met internasionale tendense nie, maar maak dit ook groot inbreuk op die regte van meer as 90% van die land se inheemse moedertaalsprekers. Die argument dat Engelse onderrig groter toeganklikheid bied, is ʼn mite – die enigste persone wat dit bevoordeel, is Engelstalige moedertaalsprekers. Niks kan bereik word deur Afrikaans as onderrigtaal af te skaal nie.

Die instellings is ook by regsaksies oor soortgelyke diskriminerende besluite teen Afrikaans as onderrigmedium by Unisa en die universiteite van Pretoria en Stellenbosch betrokke. Die uitspraak sal uiteraard dié sake beïnvloed. AfriForum en Solidariteit se regspanne sal die uitspraak bestudeer en aanbevelings oor verdere aksie aan die hand hiervan maak.

Dr. Nerina Bosman, verbonde departement Afrikaans by UP, het aan Forum Nuus gesê dat sy verheug is oor die hofuitspraak.

“Hierdie uitspraak beteken dat ʼn toevoeging, eerder as ʼn verskraling van meertaligheid deur die hof ondersteun word. “Dit gee hoop by universiteite soos UP waar meertaligheid weens halfgebakte ideologieë soos toeganklikheid nie ondersteun word nie.”

Prof. Wannie Carstens, professor in Afrikaans/Nederlands en direkteur van die sentrum vir akademiese en professionele taalpraktyk by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê die uitspraak beteken die bepalings van die Grondwet begin werk.

“Terwyl sekere universiteite die beginsel van eentaligheid bevorder, beteken vandag se uitspraak dat die Grondwet eerder die beginsel van meertaligheid ondersteun. Dit gee hoop dat ons taal nie afgeskaal sal word nie.”

Albei kundiges het bygevoeg dat vandag se uitspraak óók hoop skep vir ander inheemse tale en dat dit kan beteken dat dié tale eendag dieselfde status as Engels en Afrikaans sal kan geniet.

Met verwysing na die taalkwessie op skool- en universiteitsvlak het dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit, in die media gesê ouers moet steeds hul kinders na Afrikaanse skole stuur om die voortbestaan van dié taal te verseker.

Hy meen Afrikaans kan na verwagting oor vyf jaar steeds ʼn onderrigmedium aan die Universiteit van Stellenbosch én ook in Potchefstroom wees.

Soortgelyke plasings