|

Nouer samewerking nodig om landelike misdaad te bekamp

Beter samewerking tussen rolspelers in die landbousektor is nou nodiger as ooit om plaasaanvalle en landelike misdaad te voorkom en te bekamp. Dit is die onderneming wat gister tydens ’n Landelike Veiligheidskonferensie, wat AfriForum en Saai aangebied het, gemaak is.

AfriForum, Saai, TLU SA, AgriSA, Vrystaat Landbou (VL), Agri-Noordwes, Mpumalanga Landbou, die Nasionale Werkgewersorganisasie (NEASA), Sinoville Brandbestrydingsvereniging (SBBV), Forum Sekuriteit, Sakeliga, die SA Spesmagte-vereniging en die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Militêre Veterane het tydens die konferensie onderneem om nouer saam te werk om veiligheid in landelike gebiede te verbeter.

“Ons is vandag hier om te kyk hoe ons ons hulpbronne beter kan aanwend. Heelwat van die organisasies en landbou-unies het voete op die grond wat betref plaaswagte, kamerastelsels, radionetwerke en reaksie-eenhede. Ons gaan dié netwerke fyner moet verweef om beter saam te werk,” het dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, gesê.

Volgens De Jager is almal uiteindelik in dieselfde bedryf met een doel voor oë – om gemeenskappe te beveilig waar die regering dit nie doen nie. “Die organisasies wat vandag byeengekom het, is die mees omvangryke praktiese werkgroep nog en verhoogde samewerking en integrasie van netwerke kan nou vir die eerste keer waarlik gedoen word.”

Die onderskeie organisasies het elk ’n kans gekry om ’n oorsig te gee van hulle werksaamhede om misdaad te bekamp.

TLU het tydens die konferensie gesê daar is ’n leemte omdat organisasies nie saamwerk nie. Volgens Gawie Lötter van TLU, het dié unie kamerastelsels in sekere provinsies, maar sodra ’n misdadiger uit daardie gebiede beweeg, spring hy geregtigheid vry. Daarom moet daar na ’n geïntegreerde stelsel gekyk word.

Die rol van die privaat sektor is ook bespreek en Forum Sekuriteit en Sakeliga het hulle planne gedeel. Sakeliga werk tans aan ’n plan om ’n gedeelte van die N3 op pad na KwaZulu-Natal te beveilig terwyl Forum Sekuriteit vertel het van dié organisasie sonder winsbejag se planne met opleiding, hulle kamera- en moniteringstelsels.

Nic Arnold, uitvoerende direkteur van Forum Sekuriteit, het gesê kwesbare individue moet in weerbare individue omskep word en gemeenskappe moet hulle beskermingsvermoë uitbrei. Daar is volgens hom ook baie ruimte vir samewerking tussen die privaat sekerheidsektor en openbare organisasies.

“AfriForum is opgewonde oor die feit dat al hierdie organisasies bereid is om hande te vat en saam ’n verskil te maak teen die vlaag van plaasaanvalle en toenemende landelike misdaad. Die SAPD het al self erken dat hy nie sy mandaat kan vervul nie en dit is voor die hand liggend as ’n mens kyk na die chaotiese toestand van misdaad in die land. Dit is nou tyd vir gemeenskappe om hulself te beveilig,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings