|

KWAZULU-NATAL SE VULLISTERREINE IN BEROERDE TOESTAND

AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van die organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs een uit nege vullisterreine wat in KwaZulu-Natal geoudit is het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, is die meeste vullisterreine in KwaZulu-Natal in ’n haglike toestand. “Die meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak beplanning en swak bestuur”.

Van Aswegen sê voorts die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die algehele wanbestuur van die terreine. Dit wil voorkom of hierdie aspek glad nie belangrik is in plaaslike regering nie.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, en haar span vergader. Ses terreine is geïdentifiseer wat die departement in samewerking met AfriForum gaan aanpak om dit weer op standaard te bring. AfriForum gaan ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te spreek en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

Soortgelyke plasings