| |

AfriForum nader hof dringend oor grootskaalse watertekorte in drie munisipaliteite

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan gaan die Hooggeregshof in Bloemfontein dringend nader sodat watertoevoer na die dorpe in die Matjhabeng-, Nala-, en Maquassi Hills Plaaslike Munisipaliteit herstel kan word. Dit volg nadat AfriForum op 19 Oktober 2021 ’n dringende brief aan Sedibeng Water gerig het om te versoek dat die Balkfontein-aanleg weer water aan inwoners van die dorpe in die onderskeie munisipaliteite verskaf. Sedibeng Water het nie op AfriForum se brief gereageer nie wat die organisasie noop om die hof te nader.

Na wat verneem word het stakende werkers by die aanleg die krane toegedraai weens ’n loondispuut met die waterraad. Volgens Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum, is dit onaanvaarbaar dat werkers wat staak veroorsaak dat derduisende inwoners vir dae sonder water gaan wees. “Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg en veral nou tydens die pandemie is dit uiters noodsaaklik dat almal toegang tot skoon water moet hê.”

Pleidooie vir water doen reeds die ronde en AfriForum moedig inwoners met boorgate aan om veral water aan hospitale, klinieke, ouetehuise en skole te voorsien.  

“AfriForum gaan die saak beveg. Alle inwoners het die reg tot skoon water. As gevolg van politiek en die verval van staatsentiteite is die water nou afgesny. Ons kan nie toelaat dat mense wat gereeld belasting betaal, benadeel word weens die munisipaliteite se nalatigheid en onbevoegdheid nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir gemeenskapstrukture in die sentraalstreek.

Eskom het die waterraad verder met ’n kennisgewing ingelig dat die kragvoorsiener elektrisiteit na die dorpe gaan sny weens wanbetaling wat ook gaan veroorsaak dat die wateraanleg nie water kan voorsien nie.

“Geskille tussen staatsentiteite en werkers moenie gemeenskappe sonder water laat nie. Inwoners word nou gyselaar gehou omdat plaaslike regering in duie gestort het en munisipaliteite nie hul verpligtinge nakom om staatsentiteite te betaal vir water en elektrisiteit nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake.

Soortgelyke plasings