|

Middelburg-tak gryp weer in ná misdadigers op plaaslike aftreeoord toeslaan

AfriForum se Middelburg-tak het onlangs met nóg planne vorendag gekom om die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Middelburg Tehuis, Behuising & Oewersig Aftreeoord se  Rivierpark-woonstelle teen misdadigers te beveilig. Nóg sonkragveiligheidsligte is die afgelope naweek (16 Maart) opgerig om dele van die aftreeoord behoorlik te belig en opknappings aan die aftreeoord se omheining is volgende in die tak se visier.

Dié tak het reeds vroeër vandeesmaand 13 nuwe veiligheidsligte by die woonstelle aangebring en dit strategies geposisioneer om spesifieke punte in die aftreeoord te belig. Die sonkragveiligheidsligte maak dit moontlik dat misdadigers nie sommer ongesiens oor die heining by die Rivierpark-woonstelle kan glip nie. Sedert die nuwe veiligheidsligte aangebring is, het misdadigers egter een van hierdie ligte beskadig in ’n poging om ongesiens toegang tot die aftreeoord te bekom. Niks anders is beskadig of gesteel nie.

Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak, sê AfriForum se buurtwag op die dorp het dadelik opgetree om die dele van die terrein te identifiseer wat steeds vir misdadigers maklik toeganklik is. Die tak het die beskadigde lig vervang en vier bykomende ligte op die  geïdentifiseerde plekke geïnstalleer. Daar word ook beoog om eersdaags verbeteringe aan die Rivierpark-woonstelle se omheining aan te bring.

“Die doel met hierdie nuwe straatligte is om die dorp se bejaardes weerbaar teen inbrake te maak. Die aftreeoord moet vir hulle ’n toevlugsoord wees, maar AfriForum weet dat die huidige ekonomiese klimaat dit nie noodwendig moontlik maak om met al die opgraderings by te hou nie, daarom sit die Middelburg-tak hier hand by,” sê Salzwedel.

Besoek www.wordlid.co.za om by die Middelburg-tak betrokke te raak en ’n verskil in dié gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings