| |

KZN-Premier trek dreigement van kwarantynkampe terug ná AfriForum met regsaksie dreig

AfriForum verwelkom die terugtrek van Sihile Zikalala, Premier van KwaZulu-Natal, se dreigement dat mense wat positief vir COVID-19 toets in kwarantynkampe gedwing sal word, ongeag of hulle doeltreffend kan selfisoleer. Dié terugtrekking gedurende die afgelope naweek volg ná AfriForum ’n prokureursbrief oor Zikalala se dreigement gestuur het aan Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake. Omdat die regulasies wat Dlamini-Zuma uitgereik het regeringsamptenare steeds bemagtig om presies te doen wat Zikalala gedreig het om te doen, gaan AfriForum egter voort met beplande regsaksie in dié verband.

In sy prokureursbrief aan Dlamini-Zuma meld AfriForum dat dié regulasies – wat stipuleer dat mense strafregtelik vervolg kan word indien hul weier om die regering se instruksies te gehoorsaam om na kwarantynkampe geneem te word – irrasioneel is, aangesien dit die regering bemagtig om mense wat positief vir COVID-19 toets maar reeds self-isoleer met geweld na sulke kampe te stuur.

“Dit is nie net onversoenbaar met ’n samelewing wat beweer dat dit basiese vryhede koester nie. Dit gaan ook daartoe lei dat mense hulself bloot nie vir COVID-19 sal laat toets nie. Boonop plaas die regulasies ’n irrasionele las op die regering se hulpbronne,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

Sien AfriForum se petisie hier: https://afriforum.co.za/stop-die-covid-19-kwarantynkampe/

Soortgelyke plasings