|

Laaste kans om vir jou gunsteling Entrepreneur van die Jaar-deelnemer te stem

Die publiek het nog tot Woensdag (17 Augustus) tyd om vir hul gunsteling Entrepreneur van die Jaar-deelnemer te stem.

Die kompetisie wat AfriForum Sakenetwerk in samewerking met Akademia aanbied, lok die afgelope vyf jaar van die land se top entrepreneurs.

Vanjaar kon entrepreneurs wie se onderneming al minstens 18 maande aan die gang is, maar nog jonger as sewe jaar oud is, inskryf. Die Sakenetwerk-span het onder meer in Pretoria, Bloemfontein, Kaapstad en George besoek afgelê om vanjaar se kompetisie aan voornemende deelnemers bekend te stel.

Akademia het ook werkswinkels aangebied om entrepreneurs met vaardighede toe te rus om ’n sukses van hul onderneming te maak.

Inskrywings is van regoor die land ontvang van entrepreneurs met uiteenlopende ondernemings wat omtrent iets van alles doen.

Anneke Joubert het in 2019 Bouter Happies Distribution op die been gebring. Hierdie aanlyn onderneming spesialiseer in lekker, gesonde eetgoed vir ma’s en hul babas. Joubert is ’n gekwalifiseerde dieëtkundige en sjef wat besluit het om kos sonder ekstra suiker, sout en preserveermiddels vir babas te maak en het dit later ook uitgebrei met ’n reeks eetgoed vir volwassenes.

Anneke Joubert

Dis nie meer nuus dat plastiek een van die groot euwels van die 21ste eeu geword het nie. Dis waar Chrismarié Barnardt se The Kindbrush besluit het om ’n verskil te maak. Met The Kindbrush se herwinbare tandeborsels, flos en ander produkte kan jy als bekom wat jy vir mondhigiëne benodig. Ná 14 jaar wat Barnardt as mondhigiënis by verskeie praktyke in Kaapstad gewerk het, het sy tydens die Covid-19-pandemie in 2020 besluit om ’n alternatief tot tradisionele plastiektandeborsels te ontwikkel.

Chrismarié Barnardt

Het jy ’n nuwe battery vir jou voertuig nodig? Kontak dan Boltsbatteries. Deon Visagie is die eienaar van dié onderneming wat batterye vir alles van ’n 4×4 tot ’n gesinsvoertuig voorsien. Boltsbatteries bring ’n battery na jou toe, enige tyd van die dag in Pretoria, Midrand, Johannesburg en omgewing.

Deon Visagie

Franco en Corinne van Wyk is die eienaars van Houthakker. Houthakker is nie net ’n besigheid waar meubels van hout gemaak word nie, maar waar dekor items ook ’n kern van die besigheid is. Dis moeilik om te glo die Van Wyk’s het in 2020 hul eerste tafeltjie gemaak wat nie na veel gelyk het nie, maar dit was die begin van ’n liefde om houtmeubels en dies meer te vervaardig.

Franco van Wyk

Die Sherewood Lodge ryg al sedert 2016 die een prys na die ander in. Liza Strauss is die trotse eienaar van hierdie vierster-boetiekgastehuis in Pretoria-Oos. Daar is nege luukse kamers om uit te kies met ’n Afrika-tema wat sterk na vore kom.

Liza Strauss

Om vir hierdie raakvatters te stem, besoek https://www.afriforumsakenetwerk.co.za/entrepreneur-van-die-jaar-kompetisie/stem-hier/. Net een stem per persoon geld. Hierdie stemme sal bepaal watter entrepreneurs in die top tien ingesluit sal word. Daarna kies die beoordelaars die top vyf met die wenner wat op 29 September by ’n glansgeleentheid in George aangekondig word. Die wenner van die kompetisie sal onder meer R50 000 in kontant wen.

Soortgelyke plasings