|

Gratis ambulansdienste vir Deneysville se AfriForum-lede

Die Vaal Emergency Care privaat ambulansdienste het vandag onderneem om aan die lede van AfriForum se Deneysville-tak gratis ambulansdienste beskikbaar te stel. Hierdie aanbod geld slegs vir noodgevalle wat lewensbedreigend soos skietwonde en hartaanvalle is, en sluit nie medikasie in nie.

Hulle wil graag die volgende borg:

  • Gratis ambulansdienste vir lede van AfriForum se Deneysville-, Oranjeville- en Viljoensdrift-tak wanneer dit deur die AfriForum-kontrolekamer deurgegee word.
  • Let wel: Indien nie-lede op patrollie beseer word, sal hulle teen ’n minimum bedrag hulp ontvang.
  • Gratis opleiding aan patrolleerders wat basiese noodhulp insluit totdat die ambulans vanaf Sasolburg opdaag.
  • Twee noodhulpsakke aan patrolleerders.
  • Twee stelle voertuigmagnete met hulle logo.

Verder is hierdie maatskappy ook bereid om bemarkingsdae saam met die AfriForum-span te organiseer waar ’n ambulans teenwoordig sal wees sodat kinders kan sien hoe ’n ambulans binne lyk. Mense sal ook hulle bloeddruk en bloedglukosevlakke kan laat toets. Vir meer inligting klik hier.

“Hierdie is ’n baie groot geleentheid en ’n groot skenking van die ambulansdiens. Dit bied aan die gemeenskap nog ’n voordeel wanneer hulle deel van die tak is. Ons het baie planne en gaan binne dae die dorp begin skoonmaak en slaggate opvul. Dis ook lekker dat die patrolleerders aan die gang is en werklik probeer om misdaad te bekamp. Die inwoners kan noodgevalle per radio of op die volgende noodnommer rapporteer: 087 152 3176,” sê Chris Els, voorsitter van die Deneysville-tak.  

“Hierdie tak wil werklik ’n verskil in hul omgewing maak en laat nie gras onder hulle voete groei nie. Ek glo vas dat Deneysville binnekort baie beter gaan lyk. Dis heerlik om saam met sulke entoesiastiese mense te werk,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum of dié tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Deneysville of Oranjeville” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings