|

Laerskoolleerders skerp kennis op oor brandveiligheid

Leerders van die Laerskool Gordonsbaai het onlangs ’n waardevolle les in brandbewustheid en -veiligheid gekry. AfriForum se Helderbergkom-tak het op 19 April die leerders ingelig oor brandgevare en hoe hulle hulself kan beskerm in geval van ’n huisbrand.

Die geleentheid het begin met ’n aanbieding deur Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum, wat die leerders van belangrike inligting oor brandveiligheid voorsien het. Hulle het die verskillende tipes brande, die algemene oorsake van brande en die belangrikheid daarvan om ’n brandveiligheidsplan te hê, bespreek.

Die hoogtepunt van die geleentheid was ’n demonstrasie deur die Sir Lowry’s Pas-brandweer, wat hul toerusting skool toe gebring het en die leerlinge gewys het hoe hulle brande bestry. Die leerders was opgewonde om die brandbestryders in aksie te sien en om meer oor hul werksaamhede te leer. Hulle het die geleentheid gehad om met die vriendelike brandbestryders te gesels en vrae te vra.

Hulle het die studente gewys hoe om ’n brandslang te gebruik en hoe om as ’n span saam te werk om ’n brand te blus. Die leerlinge kon oefen om die brandslang te gebruik en om ’n gesimuleerde brand te blus. Dit was ’n wonderlike geleentheid vir die leerlinge om praktiese vaardighede in brandveiligheid op te doen en vertroue te kry in hul vermoë om in ’n brandnood te reageer.

“Brandveiligheid is ’n kwessie wat ernstig opgeneem moet word. Dit is belangrik om bewus te wees van die potensiële gevare van brande en om ’n plan te hê om jouself en jou geliefdes te beskerm. Die geleentheid by die Laerskool Gordonsbaai dien as ’n herinnering dat opleiding in brandveiligheid ’n deurlopende proses is en dat ons almal die tyd moet neem om hierdie vaardighede aan te leer en te oefen,” sê Jacques Benade, distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by gemeenskapsprojekte betrokke te raak. Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en sluit aan by jou plaaslike AfriForum-tak: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings