|

AfriForum beskou BELA-wetsontwerp as poging tot kulturele etniese suiwering

Dat agt van die land se nege provinsiale wetgewers vandag die groen lig aan die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wetsontwerp) gegee het, verras AfriForum nie. Die gewysigde weergawe wat goedgekeur is, word egter steeds deur AfriForum  as ’n poging tot kulturele etniese suiwering deur die ANC-regering beskou, aangesien dit die vernietiging van ’n taal- en kultuurgemeenskap se skole sal moontlik maak, om sodoende die groep se kulturele voorbestaan in gedrang te bring.

“Solank provinsiale onderwyshoofde die finale besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid kan neem, is die deur oop om enkelmedium Afrikaanse skole na dubbel- of parallelmedium skole te verander. Dat oorlegpleging daaroor met skole se beheerliggame moet geskied, is betekenisloos. Oorlegpleging oor die BELA-wetsontwerp het sedert 2017 geskied en die publiek het hulle teenstand teen aspekte van die wetsontwerp telkens duidelik gemaak. Tog is die omstrede kwessies steeds deel van die wetsontwerp, wat bewys dat oorlegpleging dikwels slegs ’n stap is wat afgehandel moet word, voordat die ANC-regering maak wat hulle wil,” verklaar Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Sy verwys na gebeure in die verlede waar provinsiale amptenare alles moontlik gedoen het om enkelmedium Afrikaanse skole se taalbeleid só te verander: “Telkens was langdurige, duur regsprosesse nodig om te bewys dat die departement verkeerd is en Afrikaanse kinders ’n reg op enkelmedium moedertaal onderwysinstellings het. Dit het gewoonlik met onrus in die gemeenskap en gepaardgaande spanning en trauma vir onderwyspersoneel, ouers en kinders gepaard gegaan. AfriForum meen BELA is ’n poging om toekomstige regsprosesse te omseil.”

Bailey beklemtoon dat plaaslike en internasionale navorsing en praktiese voorbeelde al herhaaldelik bewys het dat dubbel- en parallelmediumskole oplaas enkelmediumskole in die sterkste taal word. Dit beteken dat skole wat beide Afrikaanse en Engelse onderrig aanbied, uiteindelik slegs Engelse onderrig sal gee.

“Afrikaans is op soortgelyke wyse reeds in al die land se openbare universiteite en verskeie Afrikaanse skole afgetakel. Die oorblywende Afrikaanse skole is nou aan die beurt. AfriForum berei daarom vir beide nasionale en internasionale regsaksie voor om dit teen te staan, indien die wetsontwerp deur die president onderteken sou word en na implementering oorgegaan word,” sluit Bailey af.

Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum se regsaksie by www.stopbela.co.za gee.

Soortgelyke plasings