| |

Lichtenburg-buurtwag hou gemeenskap veilig in Julie

AfriForum se Lichtenburg-buurtwag het in Julie vanjaar twee noemenswaardige suksesse behaal wat die veiligheid van die gemeenskap ten goede bevorder het. Hierdie voorvalle toon die doeltreffende samewerking tussen die buurtwag en die polisie om misdaad te bekamp.

Op 29 Julie om 12:19 vm het ’n buurtwaglid by die substasie gewerk om sekuriteitskaste te sweis en slotte op te sit, toe hy ’n kapgeluid by die ou slagpale langs die substasie hoor. Hy het bystand op die buurtwaggroep gevra om alle moontlike ontsnappingsroetes te dek, aangesien die area groot is. Verskeie lede het vinnig gereageer en daarin geslaag om een van die twee verdagtes vas te trek. Die verdagtes was besig om mure in die ou slagpale af te breek om by die yster uit te kom, vermoedelik vir skrootmetaal. Teen 12:54 vm was die hele saak afgehandel.

Op 13 Julie 2024 om 09:30 vm het ’n buurtwaglid ’n oproep ontvang oor drie verdagtes wat langs die pad gesien is. Die verdagtes is aangekeer en ondervra – koperkabels is in hul besit gevind. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die koperkabels gesteel is vanaf ’n nabygeleë sonplaas. Die polisie het die verdagtes later in hegtenis geneem.

“Hierdie twee voorvalle beklemtoon die doeltreffendheid van samewerking tussen die buurtwag en die polisie om misdaad te bekamp en ons gemeenskap veiliger te maak. AfriForum se Lichtenburg-tak bedank al die lede wat vinnig en doeltreffend opgetree het om hierdie misdadigers vas te trek en aan die owerhede oor te gee,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Vir verdere navrae of om by AfriForum se Lichtenburg-buurtwag betrokke te raak, kontak die buurtwagleier, Janru Reynders by 071 100 0574 of die OPS-spanleier, Carel Pauly by 071 339 6180.

Soortgelyke plasings