|

Sukses: AfriForum help gemeenskap om onwettige grondgrypers te verwyder

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Elandsfontein-gemeenskap, suid van Johannesburg, bygestaan om meer as 500 grondgrypers te help verwyder wat begin het om onwettig stukke grond te beset, honderde stukke grond af te merk en strukture op te rig. Die grondgrypers en die onwettige strukture wat hulle opgerig het, is verwyder.

Dit kom nadat AfriForum verlede week in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ’n bevel gekry het om die gemeenskap van Elandsfontein te help om die onwettige grondgrypers te verwyder.

“In hierdie geval het ons ’n ander benadering as gewoonlik tot sulke aangeleenthede gevolg. Die Midvaal-munisipaliteit en die Demokratiese Alliansie (DA) het saamgewerk om ons te help, saam met die JMPD, die SAPD en die SANW. Dit was bemoedigend om steun uit soveel oorde te kon kry, en AfriForum werk graag saam met diegene wat ons wil ondersteun om gemeenskappe by te staan wat deur onwettige grondgrypers geteiken word. AfriForum sal nie toelaat dat grondgrypers mense met hulle onwettige optrede intimideer en hulle eiendomsregte bedreig nie,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

“Hierdie situasie wys weer hoe belangrik dit is dat grondeienaars hulle regte ken en gebeurlikheidsplanne gereed het vir ingeval hulle grond deur onwettige grondgrypers geteiken word. Grondgrype moet so gou moontlik aangemeld word, en AfriForum is altyd beskikbaar om sulke aanmeldings te ontvang en daarop te reageer,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid.

 

Soortgelyke plasings