| |

Malema getuig volgende week in AfriForum se haatspraak-saak

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het vandag sy deskundige getuienis in die haatspraak-saak teen Julius Malema en ondersteuners van die EFF in die hooggeregshof in Johannesburg afgesluit.

Adv. Mfesane Ka-Siboto, vir die EFF, het Roets die afgelope twee dae kruisondervra en indringende vrae gevra oor sy kundigheid om navorsing te doen, hoe onafhanklik die navorsing is wat in sy boek, Kill the Boer, vervat is sowel as temas wat in die boek behandel word soos die eiesoortige aard van plaasmoorde en –aanvalle, rassisme, grond en arbeid en politici se uitsprake.

Ka-Siboto wou ook by hom weet of hy enigsins ’n kundige is oor die oorsprong en filosofie van die lied Kill the Boer.

Adv. Mfesane Ka-Siboto, regsverteenwoordiger vir die EFF

Die hof is gister ontwrig nadat twee onbekende vroue tydens die hofsaak luidkeels begin sing het en plakkate met die woorde Dubul’Ibhunu (Kill the Boer) vertoon het. Dit het gebeur kort nadat ’n video vertoon is waarin EFF-ondersteuners eergister Kill the Boer buite die hof gesing en Roets en sy regspan probeer intimideer het. Een van die oproeriges is ook geroep om te getuig oor wat buite die hof gebeur het. Hy het aangevoer hulle het ‘Kiss the Boer’ gesing en glad nie ingang versper nie.

Twee onbekende vroue het tydens die hofsaak luidkeels begin sing.

Die hofsaak het ’n verdere wending geneem nadat Ka-Siboto wou hê Roets moes van minagting van die hof aangekla word omdat hy ’n foto in die hof geneem het terwyl regter Edwin Molahleni opdrag gegee het dat geen foto’s of opnames gemaak mag word toe die hof vir ’n paar minute as konsultasievertrek gebruik is. Molahleni het aanvaar dat Roets nie die hofreëls doelbewus oortree het nie omdat hy nie die opdrag duidelik kon hoor nie.

Regter Edwin Molahleni

Roets het vroeër getuig dat die woorde “Kill the Boer” ’n bespotting van plaasmoordslagoffers se lyding maak. Hy het gesê daar is verskillende motiewe en redes vir plaasmoorde waaronder gierigheid, rassehaat, diefstal, intimidasie sowel as politieke motiewe. Hy voer aan die sing van liedere soos Kill the Boer en ander vorme van haatspraak wel wrede aanvalle en moorde aanmoedig.

Ernst Roets tydens kruisondervraging

Hennie Human, ’n traumaberader by AfriForum se Trauma-eenheid, het vandag oor die impak van plaasmoorde op slagoffers getuig. Hy het benadruk dat plase soos gemeenskappe funksioneer en dat boere sowel as plaaswerkers onder die trauma van ’n plaasmoord lei.

Hennie Human van AfriForum se Trauma-eenheid

Ka-Siboto het aangedui dat hy Human nie gaan kruisondervra nie.

AfriForum vra vir ’n hofbevel wat die EFF sal dwing om R500 000 te skenk aan ’n organisasie wat nierassigheid bevorder. Die organisasie wil voorts hê dat die hof die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet verwys sodat Malema en sy party strafregtelik vervolg kan word.

EFF-lede in die hof

Soortgelyke plasings