|

George-tak veg teen misdaad én bou gemeenskap

AfriForum se George-tak fokus nie net op die stryd teen ongeregtigheid en gebrekkige wetstoepassing in en om George nie, maar bou ook gemeenskappe op deur broodnodige kennis oor die regstelsel aan hulle oor te dra sodat slagoffers van ernstige geweldsmisdade, soos plaasaanvalle, ook hulself ná dié voorvalle kan beskerm.

Die George-tak het ’n behoefte aan opleiding en ondersteuning vir slagoffers van geweldsmisdade geïdentifiseer, en onlangs besluit om dié nood te takel. Daarom het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, lede van die tak en die plaaslike gemeenskap tydens ’n inligtingsessie in Maart, met die nodige kennis oor die regstelsel en gepaardgaande wapenwetgewing toegerus.

Nel het spesifiek gefokus op die onderwerp van onregmatige en gebrekkige vervolging. Hy het ook geïllustreer hoe dié soort misdade gemeenskappe beïnvloed, en hoe te werk gegaan moet word om die sistemiese verval van die regstelsel teen te werk. Nel het onder meer daarop gewys dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid gemeenskappe bystaan wanneer die regstelsel hul faal.

Kamfer het op sy beurt aktuele vrae oor regmatige vuurwapeneienaarskap beantwoord en maniere bespreek om vuurwapeneienaars aan die regte kant van die wet te hou. Dié onderwerp is veral van toepassing op buurtwaglede wat gereeld met hierdie soort vrae gekonfronteer word wanneer hulle patrollies ry.

“Dit het onder ons aandag gekom dat slagoffers van geweldsmisdade dikwels nie genoegsame ondersteuning van plaaslike wetstoepassers en selfs die regstelsel ontvang nie. Dit beteken dat geregtigheid dikwels nie geskied nie,” sê Èduan Naudé, voorsitter van AfriForum se George-tak.

“Dit is egter bemoedigend om te besef dat die gemeenskap nie aan sy eie genade oorgelaat is nie, maar dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in volle gereedheid is om die gemeenskap by te staan wanneer die staat hul faal.”

Die AfriForum-tak in George voer ’n belangrike stryd teen misdaad, spesifiek geweldsmisdade in en om dié dorp. Die tak is bekend vir sy noue samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidstrukture. Dié tak het ook al by verskeie geleenthede ondersteuning aan slagoffers van geweldsmisdade gebied, en poog om voortdurend hierop te bou en te verbeter.

Raak vandag nog by die George-tak en sy buurtwag betrokke om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak. Kontak Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder van die Suid-Kaap, by marthinus.erasmus@afriforum.co.za of 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings