|

Man wat Middelburg-vrou doodry skuldig ná AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingryp

Khumbulani Malinga het in die streekhof in Middelburg, Mpumalanga, skuldig gepleit op aanklag van strafbare manslag nadat hy Lizel Visagie op 23 Maart 2019 in dié dorp doodgery het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Visagie se familie in die saak bygestaan nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik klagtes teen Malinga laat vaar het.

In Malinga se pleitverduideliking, wat in die hof voorgelees is, het hy erken hy het teen ’n spoed hoër as die spoedgrens oor ’n rooilig gery. Hy het ook erken daar was geen verweer vir sy optrede nie. ’n Tweede klag van bestuur onder die invloed van alkohol teen Malinga is egter laat vaar.

Visagie en haar tienerdogter was destyds besig om die straat oor te steek toe Malinga teen ’n hoë spoed op hulle afgepyl het. Hy het getuig dat hy hulle nie gesien het nie. Visagie se laaste heldedaad was om haar dogter uit die pad van Malinga se swart BMW te stamp.  Haar een been is egter heeltemal afgeruk en die ander een verguis. Sy het doodgebloei. Visagie se dogter het net geringe beserings opgedoen. Omstanders moes Malinga verhoed om op vlug te slaan.

Marie Hamman, Visagie se ma, het vroeër vertel hoe Malinga hul familie “verwoes” het. “Hy het my kind, ’n suster en ma van ons weggevat. Ek skrik nog party aande wakker en dink aan die dag toe Lizel van ons weggevat is.”

Visagie het by haar ma gewoon wie gehelp het om die pot aan die kook te hou. Hulle het hul geld saamgegooi om die rekeninge te betaal. Hamman sê sy sukkel nou om kop bo water te hou en moes al haar woonstel prysgee. Sy woon nou alleen in ’n kamer in iemand anders se huis. Haar enigste inkomste is ’n skamele R1 800 per maand van ’n SASSA-pensioen en die koekies wat sy nou en dan op aanvraag bak om te verkoop.

Visagie se dogter het kort ná haar ma oorlede is na Nieu-Seeland verhuis om by haar pa te gaan bly. Hamman het haar nog nie weer gesien nie.

“Ek het nie die geld om vir my kleindogter te gaan kuier nie en COVID het sake nog moeiliker gemaak,” vertel Hamman. “Ons stuur nog gereeld boodskappe vir mekaar of gesels op die telefoon en alhoewel sy die ongeluk agter haar wil sit, is sy nog gebroke.”

Hamman het op aanbeveling van ’n verslaggewer by die plaaslike koerant AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir hulp genader ná die saak teen Malinga aanvanklik nie juis vordering getoon het nie. Sy vertel hoe sy bitter min terugvoering op haar navrae van die ondersoekbeampte gekry het, maar met AfriForum se hulp het die saak begin vorder.

Die privaatvervolgingseenheid het op 30 September verlede jaar ’n brief aan die NVG gerig omdat die saak op daardie stadium al vir langer as ’n jaar gesloer het.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verwelkom AfriForum die hof se bevinding, asook die vervolging van Malinga deur die NVG. “Die noodsaaklikheid van die druk wat die privaatvervolgingseenheid uitoefen sodat prima facie-sake soos hierdie wel die nodige aandag kry, word weereens in hierdie geval beklemtoon. Ons is tevrede dat geregtigheid geskied het en hoop dat die vonnisoplegging berusting vir die slagoffer se familie sal bring.”

Hamman sê daar is sprake dat Malinga onder huisarres geplaas gaan word. Sy voel dis baie onregverdig. “Hy het alles van my weggevat en hy word net onder huisarres geplaas, want hy moet vir sy kinders sorg. Maar wie gaan vir my sorg?”

“Ek skrik nog party aande wakker en dink aan die dag toe Lizel van ons weggevat is.”

Marie Hamman

Volgens Malinga is hy die enigste broodwinner vir sy agt minderjarige kinders. ’n Korrektiewedienste verslag sal opgestel word waarna vonnisoplegging op 15 November sal plaasvind.

Soortgelyke plasings