|

Skuldigbevinding in Middelburg-saak volg ná privaatvervolgingseenheid ingryp

Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid toegetree het, het landdros Andreas Masteroudes verlede week in die streekhof in Middelburg vir Khumbulani Malinga skuldig bevind op ’n klag van strafbare manslag. Malinga het skuldig gepleit op hierdie klagte nadat hy in Maart 2019 vir Lizel Visagie doodgery het. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik die saak teen Malinga teruggetrek totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan die NVG en SAPD geskryf het dat hulle namens Visagie se naasbestaandes optree en vordering in die saak versoek het.

Visagie het tydens die voorval haar minderjarige dogter uit die pad van Malinga se motor gestamp terwyl hy besig was om vir die verkeerspolisie te vlug. Malinga het Visagie se been afgery en sy is onderweg na die hospitaal oorlede.

Die privaatvervolgingseenheid het op 29 September 2020 namens Visagie se familie aan die NVG geskryf omdat die saak teen Malinga op daardie stadium al vir langer as ’n jaar gesloer het. Die NVG het, volgens hulle skrywe aan die eenheid op 13 November 2020, aanvanklik die klagtes teen Malinga teruggetrek aangesien die bloedalkoholverslag uitstaande was. Die saak teen hom is op 23 Augustus 2020 om hierdie rede van die hofrol geskrap. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid egter betrokke geraak het, is Malinga deur die NVG gedagvaar om in Maart 2021 in die hof te verskyn en is hy verlede week uiteindelik skuldig bevind.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verwelkom AfriForum die hof se bevinding, asook die vervolging van Malinga deur die NVG. “Die noodsaaklikheid van die druk wat die privaatvervolgingseenheid uitoefen sodat prima facie-sake soos hierdie wel die nodige aandag kry, word weer eens in hierdie geval beklemtoon. Ons is tevrede dat geregtigheid geskied het en hoop dat die vonnisoplegging op 15 November berusting vir die slagoffer se familie sal bring.”

Soortgelyke plasings