| |

Marble Hall in wurggreep van misdaad, dringende aksie nóú nodig – AfriForum

Met ’n gemiddeld van 13 huisbrake per maand het Marble Hall die afgelope paar maande verstrengel geraak in ’n ernstige wurggreep van misdaad. AfriForum se Marble Hall-tak hou derhalwe vol dat dié skokkende voorkoms van huisbrake en ander soorte misdaad nou dringende ingryping van die gemeenskap self, deur middel van verhoogde betrokkenheid by die plaaslike buurtwag, vereis.

Volgens Bertus Homan, AfriForum se Marble Hall-takvoorsitter, vind nagenoeg 90% van huisbrake in dié dorp in die vroeë oggendure, tussen 03:00 en 04:30, plaas. Daarbenewens is bevind dat dwelmmisbruik ’n toenemende probleem word en ’n belangrike bydraende faktor in verskeie ander plaaslike misdade is. “Daar is reeds bevind dat gereelde patrollies ’n doeltreffende afskrikmiddel en voorkomingstaktiek ten opsigte van veral huisbrake is, maar die volhoubaarheid daarvan vereis nou groter betrokkenheid van die Marble Hall-gemeenskap,” benadruk Homan.

Die verval van die plaaslike munisipaliteit en verswakking van basiese dienslewering sowel as die algehele omvang van misdaad wat ook die polisie se beperkte vermoë tot die uiterste beproef, maak die dringendheid van gemeenskapsbetrokkenheid op verskeie vlakke soveel groter, verduidelik Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Waterbergstreek.

“Ons as gemeenskap moet nou moue oprol en self aan die oplossings werk vir ’n skoner, meer doeltreffende én veiliger dorp. AfriForum se Marble Hall-tak en -buurtwag pak reeds hierdie kwessies kaalhande aan en met die hulp van die gemeenskap sal soveel meer vermag kan word. As gemeenskap kan ons nie staatmaak op die regering om die oplossings te bied nie. Ons sal dinge self moet doen, onsself beveilig, die dorp self in stand moet hou en self opknappingswerk doen. Die tyd vir selfdoen is nou!” sê Kotze.

“Ons veiligheid hang af van die rol wat ons in ons gemeenskap speel en hoe betrokke ons is in die beveiliging van ons gemeenskap. Om net kritiek te lewer, is nutteloos, en hoewel kritiek ook nodig is, moet dit gepaard gaan met aktiewe pogings om oplossings te vind. Dit is nou die tyd vir die Marble Hall-gemeenskap om deel van hierdie oplossing te wees,” sluit Homan af.

AfriForum-buurtwagte: Só maak gemeenskappe sélf ’n plan

AfriForum se veiligheidstrukture funksioneer landwyd in meer as 160 dorpe en stede en maak staat op vrywilligers om die veiligheid van plaaslike gemeenskappe te bewerkstellig. Dié strukture funksioneer uiters doeltreffend in samewerking met ander veiligheidstrukture soos plaaslike plaaswagte, sekuriteitsmaatskappye en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en volg dus ’n holistiese benadering tot verhoogde veiligheid, misdaadbekamping en die aankeer van verdagte persone. Daarbenewens word buurtwaglede deeglik opgelei en bemagtig met die nodige kennis oor hul regte en verantwoordelikhede om hulself en die gemeenskap wat hul dien, optimaal te beskerm.

Word vandag nog deel van die Marble Hall-tak en -buurtwag en maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings