|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Dis nog vroeg in die jaar, maar AfriForum is reeds goed op dreef om te veg vir taalregte, die regte van minderhiedsgrope en gehalte-onderrig.

AfriForum het die besluit verwelkom om die sperdatum vir kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) uit te stel. Belanghebbendes kan nou tot 31 Januarie kommentaar indien. Indien die Bela-wet in sy huidige vorm aanvaar word, sal dit skole se beheerliggame van hul regte ontneem wat ’n groot bedreiging vir gehalte-onderrig sal inhou.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

Die ANC-regering spog met ’n matriekslaagsyfer van net oor die 80%, maar AfriForum meen hierdie syfer is misleidend aangesien verskeie leerders wat in 2011 vir gr. 1 ingeskryf het nooit tot by matriek gevorder het nie. Daar was ook vanjaar ongeveer 120 000 leerders wat nie betyds vir die nuwe skooljaar in skole geplaas is nie. Hierdie is van die redes waarom AfriForum so sterk teen die Bela-wetgewing gekant is.

Meer inligting oor dié wetsontwerp en die gevare wat die inwerkingstelling daarvan sal inhou, is beskikbaar op www.stopbela.co.za.

AfriForum het vandeesweek in parlementêre kommentaar daarop aangedring dat die SAUK geprivatiseer moet word en dat TV-lisensies afgeskaf moet word. Die SAUK gaan gebuk onder korrupsie en wanbestuur wat tot ’n voortdurende stryd vir befondsing lei. Daarmee saam was die ontduikingskoers vir die betaal van TV-lisensies in 2022/2023 ’n hemelhoë 87%.

“TV-lisensies is ’n bewese ondoeltreffende bron van finansiering vir die SAUK. Daar moet daarom weggedoen word met TV-lisensies en dit moet vervang word met ’n alternatiewe finansieringsmodel wat waarlik werk. In die geval van ’n geprivatiseerde SABC, sal TV-lisensies ook vanselfsprekend tot die verlede behoort,” sê Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum.

Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum

Byna 14 maande nadat die bekende Mokopane-prokureur Schalk Pienaar vermoor is, is ’n verhoordatum uiteindelik vasgestel vir die man wat daarvan beskuldig word dat hy dié misdaad georkestreer het. Pienaar is op 19 September 2022 vermoor kort nadat hy by die huis aangekom het. Hy is tien keer in sy oprit geskiet. Tsholofelo Joseph Motsoane is in Oktober 2022 in hegtenis geneem en van die misdaad aangekla.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die Pienaar-gesin, wat dié eenheid genader het ná talle vertragings met die afhandeling van die saak. Pienaar se seun Benjamin sê hy waardeer die eenheid se hulp.

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het aan die einde van verlede jaar omtrent 40 ton teer aangewend om meer as 200 slaggate te herstel. Dié projekte bou voort op die Lichtenburg-tak se uiters suksesvolle slaggatprojek wat gedurende 2023 ongekende vordering gemaak het met die herstel van slaggate in Lichtenburg, benadruk Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot Marico. Dié tak bedank NWK, die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit en LTX Teerprojek vir hul onderskeie skenkings.

Pine Pienaar, slaggatprojekleier in Lichtenburg

Soortgelyke plasings