|

Matrieks leer oor leierskap en om eienaarskap van toekoms te neem

AfriForum Jeug het op 19 Maart ’n leierskapsontwikkelingssessie vir hoërskole in Gauteng aangebied waartydens matriekleerders geleer het oor leierskap en om eienaarskap van hul toekoms te neem. Vyftig matrieks van vyf skole – HTS N Diederichs en Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, Hoërskool Centurion en Hoërskool Eldoraigne in Centurion en Hoërskool Oos-Moot in Pretoria – het die geleentheid bygewoon. Die sprekers het nie net insig gebring nie, maar ook ’n nuwe vonk van hoop en selfdoen ontsteek.

Die Toekomsskeppers-projek is ’n inisiatief deur AfriForum Jeug en AfriForum se afdeling vir Jeugleierskap en Ontwikkeling wat daarop gemik is om jongmense die nodige vaardighede te leer om hul toekoms in eie hande te neem. Beide hierdie afdelings glo daarin om jong sterk leiers te kweek wat geleenthede in hul gemeenskappe skep.

Een van die sprekers, Ernst Roets, Beleidshoof van die Solidariteit Beweging, het gepraat oor leierskap en die belangrikheid daarvan om betrokke te wees in jou gemeenskap. Hy het genoem hoe ons in ’n era van individualisme leef en hoe dit soms daartoe kan lei dat mense onttrek van die gemeenskap, waar hulle nou juis moet terugkeer na hul gemeenskappe en aan hul toekoms moet bou. Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug, het genoem dat die jeug aanhoudend moet eienaarskap moet neem van hulle toekoms.

“AfriForum se afdeling vir Jeugleierskap en Ontwikkeling is betrokke by die ontwikkeling van verskeie leierskapsinisiatiewe onder meer die teenboelieveldtog, om jong meisies deur die #EkIsWondermeisie-inisiatief te bemagtig, asook om entrepreneuriese leierskap onder ons jeug te kweek met die Besigheidsbytjies- en Juniorpreneursinisiatief,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Die jeug is belangrik, asook jeugleierskapsontwikkeling want as ons in ons jongmense belê, belê ons ook in hulle toekoms as toekomstige leiers.”

Adrienne Krause, beampte vir jeugontwikkeling by AfriForum Jeug, sê dit is lekker om te sien hoe skole ingekoop is daarop om hul leerders die geleentheid te gee om sessies soos hierdie by te woon. Skole gee op hierdie manier vir hul leerders die geleentheid om persoonlik te ontwikkel.

Soortgelyke plasings