AfriForum Teater skenk akteurswisseltrofees aan Akademia tydens eerstejaarskonsert

AfriForum Teater is die tuiskomplek vir die Afrikaanse kunste en vanjaar is dié teater trots om deel te kon wees van die beoordelaarspaneel tydens Akademia se eerstejaarskonsertkompetisie. AfriForum Teater het ook twee wisseltrofees vir dié kompetisie geskenk, naamlik die AfriForum Teater wisseltrofee vir beste akteur en beste aktrise.

Akademia spog vanjaar met ses koshuise en elke jaar groei dié tersiêre instelling net meer en meer en vir AfriForum Teater is dit wonderlik om te sien hoe tradisies soos die eerstejaarskonsert saam met Akademia groei.

Vanjaar het die eerstejaarskonsertkompetisie in sleep verband plaasgevind – met ander woorde ’n manskoshuis en dameskoshuis het saam gespan om ’n uitnemende produksie op die planke te sit.

Die beoordelaars het gekyk na verhooginkleding, toneelspel, musiek en dansvernuf. Uiteindelik het Huis Magalies en Huis Strelitzia as wenners uit die stryd getree. Die wenners van die twee wisseltrofees was ook onderskeidelik Mecka Wilhellem van Huis Daglelie en Christiaan Badenhorst van Huis Karoo.

“Dit was werklik ’n wonderlike geleentheid vir AfriForum Teater om hierdie jaar deel te kon wees van die beoordelaarspaneel tydens Akademia se eerstejaarskonserte. Ons sal verseker hierdie jongtalente met belangstelling dophou!” sê Carien Bloem, hoof van kommunikasie en openbare skakeling by AfriForum Teater.

Soortgelyke plasings