|

Meer as R150 000 tydens gholfdag vir dié skool ingesamel

Die Herbert Street Special School vir leerders met outismespektrumafwyking in Bellville in die Wes-Kaap is verheug oor die fondse wat onlangs tydens ’n gholfdag ingesamel is wat in samewerking met AfriForum aangebied is.

Danksy die oop beursies van die publiek en welwillendheid van groot borge is meer as R150 000 ingesamel. Daar was 21 vierballe wat op die dag deelgeneem het en daar was borge op al 18 putjies van die baan ten spyte van reën en beurtkrag.

Die geld sal gebruik word vir die skool se beroepsonderwysprogram. Dié program fokus daarop om leerders met vaardighede toe te rus wat hulle in die gemeenskap kan gebruik om sodoende ook vir hulself werksgeleenthede te skep.

Die skool is op 14 Februarie 2019 in Oakdale, Bellville, geopen en deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement begin om in die enorme behoefte vir leerders met outismespektrumafwyking te voorsien. Daar was aanvanklik 14 leerders en nou 81.

Cooper die gidshond vir kinders met outisme van Paws4Life

Alle leerders het die reg tot onderwys, maar nie almal kan die hoofstroomskoolprogram en –leerplan volg nie. Die skool voldoen dus aan die behoeftes van leerders met outismespektrumafwyking wat hoë vlakke van ondersteuning nodig het om doeltreffend te leer.

Daar word gepoog om elkeen te ondersteun en te help om in onafhanklike en waardevolle lede van die gemeenskap te ontwikkel.

Die leerders is tussen ses en vyftien jaar oud. Daar is vier ontwikkelings-, vyf grondslag- en twee intermediêrefase-klasse.

Die skool het nie net finansieel by die gholfdag gebaat nie. Daar is ook ’n skenking van R2000 se vleis vir 12 maande van Meat Only-winkel, dienste waar gidshonde vir kinders met outisme die skool gaan besoek om met die leerders te werk (Paws4life), waterdigting en verfwerk wat deur  Futureseal aangebied is sowel as gratis oogtoetse vir die leerders deur Spectacle Warehouse en vele meer. AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het R25 000 geborg vir die gholfdag.

Foto: Zenobia Helm, hoof van die Herbert Street Special School, saam met Ammaar Patel, ’n leerder van die skool, en sy ma, Sumayy Khan.

Soortgelyke plasings