AfriForum verstrek regsbystand aan tehuis vir gestremde persone en plaas die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling op terme

Die burgerregteorganisasie AfriForum verleen regsadvies aan Sunfield Home Fortuna, ’n tehuis vir fisiese en verstandelik gestremde persone, aangesien die staat vir die afgelope 14 jaar weier om die subsidiebedrag te verhoog. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling dreig nou om die staatsgesubsidieerde inwoners te verplaas. AfriForum het vandag ’n brief aan die departement gerig om die besluit om die inwoners te verplaas, te heroorweeg.

Vir die afgelope 14 jaar het die subsidiebedrag wat die Sunfield Home kry, teen R1 984 per inwoner per maand, onveranderd gebly. Dit kom neer op ’n maandelikse tekort van R6 852,03 per inwoner in hulle 2022/23-begroting. Alhoewel die tehuis aan die departement geskryf het om dié kwessie onder hulle aandag te bring, het hulle tot op hede, ondanks verskeie versoeke, nog geen formele terugvoer ontvang nie.

In Augustus 2022 is die tehuis deur Zandile Mabena van die departement se Dipaleseng-kantoor gekontak, wat hulle in kennis gestel het dat die departement besoek sou kom aflê om die gesubsidieerde inwoners se lêers deur te gaan, aangesien hulle na ander tehuise verplaas gaan word. Die departement het hulle vervolgens op 16 Augustus 2022 om dié rede besoek. Hulle is in kennis gestel dat die departement hulle opdrag gegee het om die inwoners teen die einde van September na ander tehuise te verplaas, óf terug na familie toe stuur, óf terug in die samelewing te plaas.

Volgens AfriForum se regspan is dié keuse van die departement om te weier om die subsidiebedrag te verhoog met betrekking tot die gesubsidieerde inwoners, en om hulle eerder te verplaas, na hulle families toe terug te stuur, of terug in die samelewing te plaas ongrondwetlik, onredelik, ongegrond en irrasioneel. Dit wil voorkom asof die keuse van die departement met ’n bymotief geneem is aangesien ten minste twee tehuise binne ’n radius van 50 km vanaf Sunfield Home dubbel die subsidiebedrag van die departement ontvang.

“Die keuse van die departement dra nie die inwoners se belange op die hart nie en maak inbreuk op hulle reg op menswaardigheid. Sommige inwoners is al vir meer as 30 jaar hier woonagtig en ken geen ander huis nie. Dié skielike verplasing sal daarom vreeslik traumaties wees en ‘n negatiewe uitwerking op hulle fisiese en sielkundige welstand hê,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Dit is skokkend om te sien hoe gevoelloos die staat met die lewens van die weerloses omgaan, maar die hartseer feit is dat dié koue skouer van die regering iets is waaraan die meeste Suid-Afrikaners al moes gewoond raak. AfriForum probeer ’n soortgelyke Life Esidimeni-tragedie deur die regering se toedoen hier voorkom,” sluit Van Zyl af. 

AfriForum, namens Sunfield Home, versoek die departement om

1. hul besluit te heroorweeg en te hersien; en

2. die subsidiebedrag van Sunfield Home dienooreenkomstig aan te pas.

Indien die departement versuim om op hierdie brief van AfriForum se regspan te reageer, en nie hulle irrasionele besluit teen 31 Augustus hersien nie, sal AfriForum die Hooggeregshof nader vir die nodige verligting, sowel as ’n strafkostebevel teen die departement.

Soortgelyke plasings