|

Neem demografiese werklikhede in ag vir federalisme-plan

Meer as 200 afgevaardigdes van AfriForum se Noordelike Streek woon vandag die organisasie se streekberaad in Pretoria by.

Streekberade word ook vandeesmaand in die Kaap en Bloemfontein gehou.

Die doel van die berade is om AfriForum se takstrukture, buurtwagte en vrywilligers te bemagtig om planne vir die toekoms te kan implementeer.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die organisasie se 7-been federale toekomsplan verduidelik.

“Federalisme is deel van ons DNS. En met dit wat ons reeds doen, is ons besig om dit van onder af te bou.”

Die federalisme-plan fokus op selfdoen en pogings om magte na gemeenskappe af te wentel. “Baie mense sal sê die ANC sal ons nooit toelaat om dit te doen nie. Ons gaan egter nie hul toestemming vra nie en self doen wat ons gemeenskappe nodig het,” sê Kriel.

Die federale plan word egter deur die demografie van ’n gemeenskap of streek beïnvloed en daarom kan een plan nie op alle omstandighede van toepassing wees nie.

Daar is verskillende planne vir ’n ankergemeenskap, die Pretoria Kulturele Kanton, die Wes-Kaap en Orania.

In die geval van ankergemeenskappe is dit moontlik om ander rolspelers soos kerke, skole, ouetehuise te betrek en by die plan te verteenwoordig ten einde gemeenskappe sterker te maak.

Binne die Pretoria Kulturele Kanton is dit moontlik om 14 ankergemeenskappe te skep waar daar ook ’n sterk klem op selfstandige instellings is soos die AfriForum Teater, Sol-Tech, Akademia en die Voortrekkermonument, waar verskeie van die Solidariteit se Bewegingsinstellings, ook betrokke is.

In die Wes-Kaap is dit moontlik om met ander groepe vir groeiende federalisme saam te werk gegewe die feit dat net 20% van inwoners in die provinsie vir die ANC stem en die res groter afwenteling van mag voorstaan. Druk is reeds besig om op te bou om die ANC te dwing om polisiëringsmagte na die provinsie af te wentel.

In Orania is die grootste konsentrasie van Afrikaners wat ’n ander model vir federalisme daarstel.

Kriel wys daarop dat die federale plan ook internasionale skakeling en interkulturele samewerking insluit. “Ons dink nie almal dieselfde nie. Maar dit is nie ’n probleem nie. Ons kan steeds saamwerk. Ons kan ons ook nie isoleer nie, en daarom is dit ook belangrik dat ons vriendskapsbande met ander groepe op grondvlak moet hê,” sê Kriel.

Soortgelyke plasings