|

Meerderheid vullisterreine in SA voldoen nie aan minimum standaarde

Net 28 van 161 vullisterreine in Suid-Afrika wat AfriForum geoudit het voldoen aan 80% of meer van die minimum vereistes waaraan vullisterreine moet voldoen kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008). Dit is maar net een van die bevindings in AfriForum se nuutste Munisipalevullisterreinouditverslag wat vandag bekend gemaak is.

AfriForum doen reeds sedert 2014 verslag oor die land se vullisterreine. Een waarneming wat vanjaar gemaak is, is dat daar heelwat terreine is wat toegemaak het of volgens hul lisensievoorwaardes reeds moes sluit, maar steeds oop is. Luidens die verslag is dit kommerwekkend aangesien dit al vir twee opeenvolgende jare so is. Een só ’n terrein het al in 2013 ’n kennisgewing ontvang dat dit moet sluit, maar dié terrein is steeds in werking.

Met 82,5% van die vullisterreine in die verslag wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie, is dit duidelik dat daar groot gebreke is met die stelsels en persone wat vir behoorlike afvalbestuur in die land verantwoordelik is, aldus die verslag.

“Die swak persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word wat lei tot die swak bestuur van ons vullisterreine. Wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ’n gebrek aan bekwame personeel is maar ’n paar van die probleme wat ons daagliks ondervind. Die grootste probleem is dat daar amptenare in munisipaliteite is wat nie die wil en/of die kennis het om die terreine te bestuur nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.

Die wanbestuur van vullisterreine kan ook toegeskryf word aan die gebrekkige kommunikasie, asook samewerking op munisipale, provinsiale en nasionale vlak en dikwels ly die mense op grondvlak daaronder.

Daar is voor die aanvang van vanjaar se vullisterreinouditprojek in gesprek getree met die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en die Institute for Waste Management of Southern Africa (IWMSA) en aangesien AfriForum se verslag die enigste beskikbare data oor vullisterreine bevat, is daar versoek dat ekstra vrae by die lys van vrae gevoeg word. Dit het daartoe bygedra dat meer data vir sommige terreine nou beskikbaar is soos hoeveel herwinners op die vullisterreine bly en wat die oorblywende lewensduur van die terrein is voordat dit moet sluit.

Luidens die verslag is dit uiters kommerwekkend dat baie min terreine hierdie data tot hul beskikking gehad het. Dit is net weer ’n bewys dat munisipaliteite geensins die vermoë het om hulle werk doeltreffend te kan doen nie.

Omdat baie afval wat op vullisterreine beland herwin kan word, is dit maar net een van die maniere wat toegepas kan word om te verseker dat vullisterreine nie vinniger vol raak nie – iets wat munisipaliteite nie doen nie. AfriForum se Centurion-tak het reeds met ’n volhoubare herwinningsprojek begin en herwinbare vullis word weekliks by inwoners opgelaai, gesorteer en dan herwin.

Na aanleiding van die 2023-verslag gaan AfriForum poog om vullisterreine deur middel van openbare/privaat-vennootskappe te bestuur of om die proses te fasiliteer. “Een suksesverhaal is dié van die vullisterrein in die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit in Potchefstroom wat ’n daadwerklike ommekeer gemaak het nadat ’n bekwame privaat maatskappy aangestel is om by die vullisterrein te help. Dié terrein het vanjaar aan 98% van die vereistes voldoen.”

De Klerk meen munisipaliteite moet na dié soort oplossings begin kyk om Suid-Afrika se vullisbestuur op ’n aanvaarbare standaard te kry. “AfriForum sal graag met die implementering van oplossings wil help en moedig munisipaliteite ook aan om met die organisasie in verbinding te tree. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ’n skoner Suid-Afrika bydra.”

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings