|

AfriForum stig Klein-Karoo-plaaswag

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 28 Julie ’n plaaswag in die Ladismith-area gestig. Dié plaaswag is deel van AfriForum se Kannaland-tak en het ten doel om die gemeenskap in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander plaaslike veiligheidsinstansies te beveilig.

Die nuutverkose bestuur vir dié tak is Dries Erasmus (leier), George Reynolds (operasionele spanleier), Anné Reynolds (steunspanleier) en Franklin le Hanie (intelligensie-spanleier).

Die Kannaland-streek strek oor ’n groot grondgebied en die magdom plaaspaaie maak dit maklik vir misdadigers om die gereg te ontwyk. ’n Ander ernstige probleem is dwelmhandelaars wat hul goedere hier deursmokkel. 

“AfriForum is opgewonde oor dié nuwe plaaswag en sien uit om saam met die SAPD en ander veiligheidsrolspelers ’n daadwerklike verskil aan die gemeenskap se veiligheid te maak. Die plaaswag is ’n baken van hoop en ek wil die lede van die Kannaland-tak bedank vir hul voorbeeld van selfdoen en die ywer waarmee hul elke uitdaging aanpak. Saam is ons sterker,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

“Die bestuur van die Kannaland-tak verwelkom hierdie nuwe plaaswag en AfriForum se ondersteuning. Ons doel is om ’n sterk veiligheidstruktuur in die gemeenskap te vestig en samewerkingsooreenkomste met ander veiligheidsrolspelers te sluit,” sê Carel Buckle, voorsitter van die Kannaland-tak.

Raak vandag nog betrokke by die Kannaland-tak of die Klein-Karoo-plaaswag. Kontak gerus vir Marthinus Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings