|

Vullisterreinoudit: Vullisterreine in SA net nóg ’n bewys van munisipaliteite se onbevoegdheid

AfriForum het vandag die organisasie se jaarlikse vullisterreinouditverslag bekendgestel nadat vullisterreine in dorpe en stede waar AfriForum se takke geleë is, vroeër vanjaar geoudit is. Dié verslag gaan met Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, bespreek word om ’n formele ondersoek teen die betrokke munisipaliteite te versoek. Slegs 17,5% (28 van 161) van dié terreine voldoen aan die minimum vereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008).

Kragtens hierdie wetgewing moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. ’n Lys van 33 vrae is saamgestel met hierdie minimum standaarde as riglyn en dié vrae is gebruik om die vullisterreinoudit te doen.

“Die swak persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word wat lei tot die swak bestuur van ons vullisterreine. Wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ’n gebrek aan bekwame personeel is maar ’n paar van die probleme wat ons daagliks ondervind. Die grootste probleem is dat daar amptenare in munisipaliteite is wat nie die wil en/of die kennis het om die terreine te bestuur nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

“Die struikelblokke is oneindig. Munisipale amptenare is nie bekommerd oor die toestand van hulle vullisterreine en algehele munisipale dienslewering nie omdat hulle nie verantwoordbaar gehou word vir hul nalatigheid nie. Dit is kommerwekkend om te weet die meerderheid vullisterreine in Suid-Afrika voldoen nie eens aan die minimum vereistes nie. Dit is net nóg ’n bewys van hoe groot die probleem met munisipale dienslewering op voetsoolvlak is.

“Dit wil voorkom asof die nasionale regering die wilskrag het om ’n verbetering op plaaslike vlak te sien, maar die provinsiale en plaaslike regerings deel nie hierdie sentiment nie en/of beskik nie oor die bevoegdheid om dit te doen nie,” voeg De Klerk by.

Die eenvoudige verduideliking vir hierdie situasie is die feit dat die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake deur drie verskillende regeringsfere beheer word. Die nasionale departement het slegs bevoegdheid om op nasionale vlak wette, beleid en norme en standaarde vas te stel. Dié departement het dus geen bevoegdheid op provinsiale of munisipale vlak nie. Die provinsiale departement rapporteer aan die provinsiale LUR en nie aan die minister nie.

Munisipaliteite rapporteer aan die burgemeester as politieke hoof en nie aan die provinsiale of nasionale owerhede nie. Elke regeringsfeer het sy eie politieke agenda en die amptenare moet die politieke leiers op die vlak waar hulle werk, gelukkig hou. Dit veroorsaak wrywing en teenstrydighede en is deels ’n verklaring vir die huidige kwessies waarmee Suid-Afrikaners worstel. Boonop vereis die Grondwet samewerkende regering. Nasionale departemente is daarom huiwerig om teen provinsies en munisipaliteite op te tree. Hulle neem eerder ’n “ouboet”-rol aan en probeer deur mentorskap en raad hulle provinsiale en munisipale eweknieë help.

Soos in die verlede, is AfriForum ook bewus van verskeie vullisterreine wat hierdie jaar gesluit het en terselfdertyd is ook waargeneem dat sommige operasionele terreine volgens hul lisensies reeds moes gesluit het. Dit wek kommer omdat dit beteken dat daar nie meer vullisterreine in sekere dorpe of stede is nie, wat waarskynlik tot onwettige storting sal lei.

Volgens De Klerk is AfriForum ook bewus van die nuutste kwessie wat nou op voetsoolvlak begin kop uitsteek en dit is dat heelwat terreine wat nog voldoende lugspasie het, kennisgewings ontvang om te sluit. Daar word dan beoog om gesamentlike distriksvullisterreine vir tussen drie tot vier dorpe oop te maak. Dit gaan egter net die probleme verskuif wat tans ervaar word.

Een suksesverhaal is dié van die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit in Potchefstroom wat ’n daadwerklike ommekeer gemaak het en ’n bekwame privaat onderneming aangestel het om by die vullisterrein uit te help. Dit is duidelik te sien in die afgelope vier jaar se ouditresultate (16% in 2020, 46% in 2021, 82% in 2022 en 98% in 2023).

De Klerk is van mening dat munisipaliteite na oplossings moet begin kyk om Suid-Afrika se vullisbestuur op ’n aanvaarbare standaard te kry. “AfriForum sal graag met die implementering van oplossings wil help en moedig munisipaliteite ook aan om met die organisasie in verbinding te tree. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ’n skoner Suid-Afrika bydra.”

Soortgelyke plasings