|

Minderjarige verdagtes loop hul rieme styf

Samewerking tussen twee AfriForum-veiligheidstrukture in die Oos-Kaap en ander rolspelers het daartoe gelei dat twee vermeende inbrekers buite Uitenhage in hul spore gestuit is. AfriForum se Winterberg-plaaswag het op 8 Februarie ’n noodroep ontvang van twee verdagtes wat poog om by ’n plaashuis op die R75 in te breek. Met hul aankoms het die plaaswag die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Smhart Security en buurtwagte in die omgewing na die toneel ontbied.

Die plaaswag het die toneel intussen beveilig dat geen leidrade verlore gaan nie. Smhart Security en AfriForum se Walker Drive-buurtwag het onmiddellik na die toneel gehaas en met hul aankoms dadelik die soektog na die twee verdagtes voortgesit. ’n Snuffelhond en ’n hommeltuig is gebruik om die verdagtes op te spoor. Die twee verdagtes is later langs die pad gevind en na verdere ondersoek is vasgestel dat die verdagtes nog minderjarig is. Hulle is na hul ouers teruggeneem.

“Ons bedank die verskillende veiligheidsinstansies waaronder die SAPD, Smhart Security en AfriForum se Walker Drive-buurtwag wat binne minute op die toneel was,” sê Darius Stumke, leier van AfriForum se Winterberg-plaaswag.

“Voorvalle soos dié is ’n bewys daarvan dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die plaaswag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die plaaswag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die plaaswag, die polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te help,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Sluit vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings