|

AfriForum help boere met voer en traumaberading ná erge brande

Met die verwoestende veldbrande wat duisende hektaar se weiding in die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap vernietig het, het AfriForum ingespring om boere te help met voerskenkings deur die projek Voer vir ’n Boer. AfriForum se traumaeenheid het ook gemeenskappe wat erg geraak is, besoek om hulle te ondersteun en trauma-ontlonting te doen.

Volgens Corné Cronjé, bestuurder vir Gemeenskapsake by AfriForum, is dit vir die organisasie belangrik om boere in tye van nood te ondersteun, veral omdat hulle in hierdie geval boonop nie die nodige ondersteuning van die staat ontvang nie. Dít het die burgerregteorganisasie genoop om hierdie voerskenkings te maak of te reël vir vervoer vir die skenkings.

Meer as 100 ton voer is onderskeidelik aan boere van Vryburg, Daniëlskuil, Potchefstroom en Viljoenskroon geskenk terwyl die organisasie ook betaal het vir die vervoer van sewe vragte voer na Winburg.

“Boere is verantwoordelik vir voedselproduksie en die brande het ’n negatiewe uitwerking daarop. Ons het egter hulp nodig om die boere in die brandgeteisterde gebiede te ondersteun om hul las te help verlig,” sê Cronjé.

Met die duisende hektaar wat afgebrand het, vee wat doodgebrand het en die afsterwe van ’n boer in Dealesville en twee plaaswerkers van Thabazimbi, het AfriForum se traumaeenheid ook boere en gemeenskapslede van dié dorpe asook van Daniëlskuil en Reivilo besoek om ontlonting te doen.

Volgens Magda Coetzee, traumaberader by AfriForum se traumaeenheid, het hierdie reuseverliese ’n traumatiese impak op die boere wat die verliese ly, maar ook op die hele boeregemeenskap.

In Daniëlskuil en Reivilo het hulle die gemeenskap by die NG Kerk ondersteun en hulle het ook individuele berading aan van die boere en hul gesinne op hul plase gegee. Meer as 30 lede van die boeregemeenskap in Dealesville het opgedaag vir die ontlontingsessie nadat een van die boere dood is en dit sterk emosies by die gemeenskap veroorsaak het.

“Tydens die ontlontingsessies kon die boeregemeenskappe oor hulle emosies praat, mekaar hoor en na mekaar uitreik. Hulle kon perspektief kry en mekaar help om weer beheer te neem van hul lewens en toekoms,” sê Coetzee.

Indien die AfriForum-traumaeenheid se dienste benodig word, kontak 064 870 8312.

Soortgelyke plasings