|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandeesweek ’n groot oorwinning vir geregtigheid in die hof behaal met ‘n ouerpaar wat vir aanranding tronk toe gestuur is. Daarbenewens het AfriForum sy jaarlikse plaasmoordverslag bekendgemaak, die teenboeliespan het in Oudtshoorn leerders bemagtig en AfriForum-taklede het gewerk dat die sweet hulle aftap.

’n Egpaar van Pretoria is effektief 14 jaar tronkstraf opgelê vir die aanranding van hul ses maande oue baba.

Die dogtertjie, na wie as Baba N verwys word, het tussen Maart 2020 en Julie 2020 31 beenbreuke opgedoen. Sy het die eerste keer in April 2020 in die hospitaal beland. Sy was toe net vyf maande oud. Haar dokter en ’n private maatskaplike werker het klagtes by die polisie ingedien, maar die saak is laat vaar omdat daar volgens die polisie nie genoeg bewyse teen die ouers was nie.

Hierna het die privaatvervolgingseenheid die dokter en maatskaplike werker gehelp om die saak verder te voer. Barry Bateman, woordvoerder vir die eenheid, het die aanklaer, dokter en maatskaplike werke geloof vir hul aandeel om toe te sien dat geregtigheid geskied.

AfriForum se plaasmoordverslag het bevind dat hoewel daar ’n afname in aangemelde gevalle in 2022 teenoor 2021 was, het die brutaliteit van aanvalle glad nie afgeneem nie. Dit toon dat die publiek al hoe minder vertroue in die polisie het en dat sommige slagoffers nie eens die voorvalle by die polisie aangemeld nie omdat hulle meen die polisie in elk geval niks daaraan gaan doen nie.

Die verslag onthul skokkend dat in net 33% van gevalle verdagtes vir die moorde vasgetrek is.

Openbare verhore word tans landwyd gehou oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (BELA-wet). AfriForum het sterk standpunt teen dié wetgewing ingeneem. Die Tzaneen-tak het ’n voorlegging gemaak waarin die vernietigende gevolge daarvan op onderwys in die algemeen en meer spesifiek Afrikaanse onderwys beklemtoon is. Die publiek word aangemoedig om die verhore in hul dorpe en stede by te woon en ook standpunt teen die BELA-wet in te neem.

AfriForum se teenboeliespan het in drie dae 11 skole in Oudtshoorn besoek om teenboeliepraatjies aan te bied. Bewusmaking word geskep oor die gevare wat afknouery in skole en ook die res van die gemeenskap inhou. #DieValFilm is ook aan hoërskoolleerders vertoon om bewusmaking oor selfdood te kweek.

Volgehoue druk van AfriForum se takke in Springs en Kempton Park het daartoe gelei dat die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit 36 voertuie gehuur het om die agterstand met vullisverwydering in te haal. Die metro het reeds hierdie voertuie in ontvangs geneem.

In Rustenburg het die AfriForum-tak gras gesny om  moontlike wegkruipplekke vir misdadigers te beperk en in Bronkhorstspruit het die tak noodwaterpunte by die Hoërskool Erasmus opgerig aangesien die gemeenskap kort-kort sonder water is.

AfriForum het noodwaterpunte in Bronkhorstspruit opgerig.

Soortgelyke plasings