|

MIV-saak: Slagoffer eis lewenslange vonnis vir beskuldigde

Antoinette Ndishishi, ’n sersant by die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM), het die Pretoriase Landdroshof gevra om haar verkragter die swaarste moontlike vonnis op te lê en sodoende ’n beslissende boodskap stuur. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Ndishishi sedert 2018 om te verseker dat haar saak behoorlik ondersoek en vervolg word. In Junie vanjaar het die hof Leon Santos Conga, ’n voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) skuldig bevind aan verkragting en poging tot moord ná hy Ndishishi met MIV besmet het.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat Ndishishi Maandag tydens die vonnisbetoog getuig het. “Hierdie was die laaste keer wat sy as getuie geroep was in ’n saak wat nou al vir meer as ses jaar sloer. Die privaatvervolgingseenheid het haar deur hierdie moeilike proses ondersteun en haar soeke na geregtigheid sou waarskynlik nooit voltooi kon word as dit nie vir die privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid was nie. Die privaatvervolgingseenheid sal aanhou om vroue te ondersteun in hul soeke na geregtigheid. Ons wil ook graag vir aanklaer Emile van der Merwe bedank vir sy onwrikbare toewyding tot Ndishishi se saak,” sê Bateman.

Ndishishi het haar slagofferimpakverslag voorgelees waarin sy beskryf hoe hierdie misdaad haar lewe verwoes het. Volgens Ndishishi het hierdie ervaring haar vol vrees en angs gelaat en sy moet gereeld vir sielkundige berading gaan. Sy meen dat mense haar vir die res van haar lewe gaan oordeel en veroordeel. Sy skryf verder dat sy haar waardigheid en respek verloor het. Haar verkragter het haar, volgens die slagofferimpakverslag, ’n doodsvonnis opgelê en haar lewe, emosies en selfbeeld vernietig .

Ndishishi sê dat sy niks anders teen die beskuldigde hou behalwe dat hy haar met MIV besmet het. Die beskuldigde het volgens Ndishishi nie sy MIV-status aan haar verklaar nie en het ontken dat hy MIV-positief is. Sy het die hof gevra om hom die swaarste moontlike vonnis op te lê sodat hy nie weer ’n weerlose persoon met dié virus kan besmet nie.

Ten spyte van landdros Fikiswa Ntlati se bevindings en die oorweldigende getuienis wat tydens die verhoor aan die lig gekom het ontken Conga steeds dat hy MIV-positief is.

Die privaatvervolgingseenheid het in 2018 by hierdie saak betrokke geraak toe dié eenheid die SANW gedwing het om Conga se mediese verslae beskikbaar te stel. Conga se mediese verslae het daarop gedui dat hy sedert 2007 bewus was van sy MIV-status. Die SANW se weiering om hierdie verslae beskikbaar te stel het daartoe gelei dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die saak twee keer moes terugtrek. Sonder hierdie verslae het die dossier nie voldoende bewyse bevat om die beskuldigde aan te kla nie. Conga het in Maart 2022 onskuldig gepleit.

In Junie vanjaar het landdros Ntlati Conga skuldig bevind aan verkragting aangesien Ndishishi slegs ingestem het tot gemeenskap met hom omdat hy gesê het dat hy MIV-negatief is. Die hof het Ndishishi se getuienis aanvaar dat indien Conga sy MIV-status aan haar bekendgemaak het sy nie sou instem tot gemeenskap met hom nie. Die paartjie het die kwessie bespreek en hy het hierdie kardinale  inligting van haar weerhou. Die hof het deskundige getuienis aanvaar dat MIV ’n “ongeneeslike en dodelike siekte” is.

Die saak is tot 25 September 2024 uitgestel vir vonnisoplegging.

Soortgelyke plasings