|

Privaatvervolgingseenheid pak veediefstalsaak van Limpopo-buffelteler

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die eerste stap voltooi om moontlik ’n private vervolging te begin namens ’n buffelteler wat beweer hy is die slagoffer van veediefstal. Leon Fourie van Lephalale het die eenheid genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag geweier het om sy sake te ondersoek.

Die eenheid het op Donderdag, 22 Junie, onder leiding van adv. Gerrie Nel – hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid – die Lephalale-polisiestasie in Limpopo besoek waar afskrifte van die twee dossiere verkry is ingevolge ’n Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting-aansoek. Daarna het Fourie die eenheid op ’n begeleide toer van sy plaas geneem waar hy plekke aan sy grensheining uitgewys het waar sy buffels na bewering oorgesteek het na ’n buurman se plaas.

Nadat hy verskeie terreine op die plaas besoek het, het Nel gesê: “Die toer deur die plaas en die grensheining het waardevolle begrip verskaf van die omstandighede wat moontlik aanleiding tot die beweerde oortredings gegee het. Met hierdie eerstehandse kennis van die omgewing is ons volgende stap om die inhoud van die dossiere te oorweeg en te besluit of daar meriete is om ’n private vervolging in te stel.”

Soortgelyke plasings