|

AfriForum se Stellaland-buurtwagte help om gemeenskappe te beveilig

Die AfriForum-buurtwagte in Christiana, Delareyville en Vryburg het gedurende Junie en begin Julie hard gewerk om sigbaarheid in die onderskeie dorpe te verhoog.

Altesaam 168 patrolleerders het 226 patrollies aangepak gedurende hierdie tydperk. Die hoofdoel van die patrollies is om sigbaar in die gemeenskappe te wees en sodoende misdaad hok te slaan.

Die AfriForum-buurtwag in Vryburg se brandspan het hulp verleen aan die brandweer tydens ’n brand. Die vuur is suksesvol geblus.  Die AfriForum-buurtwag in Christiana het patrollies by winkels in die dorp verhoog nadat verskeie inbrake in die laaste paar weke plaagevind het. Sedert die verhoging van patrollies het die inbrake by ondernemings verminder. 

“Stellaland-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies saam hande vat om misdaad te bekamp.  Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die Stellaland-buurtwagte wil graag elke patrollie-lid en elke ander rolspeler wat deelgeneem het bedank vir hul opofferings.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings