|

Mpumalanga-debatteerders praat ’n hond uit ’n bos by Dink of Sink-werkswinkel

AfriForum se Dink of Sink-span het op 6 Maart ’n werkswinkel vir hoërskoolleerders by die Hoërskool Nelspruit in Mbombela aangebied.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op laerskool- hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree. AfriForum het egter besluit om in 2024 die kompetisie na Mpumalanga uit te brei waar graad 8 tot 12 leerders deelneem.

Altesaam 86 hoërskoolleerders en 10 onderwysers van vyf hoërskole in Mpumalanga het die werkswinkel bygewoon. Die skole wat die werkswinkel bygewoon het, is Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Bergvlam, Hoërskool Rob Ferreira, Hoërskool Ermelo en Curro Nelspruit.

Die werkswinkel het eers gefokus op die teorie van die Dink of Sink-debatskompetisie, waaronder die kompetisieformaat, die beoordelaarstaat en die tien stappe om te volg ter voorbereiding vir ’n onvoorbereide debatskompetisie. Daarna het die leerders prakties argumente gevorm oor verskeie onderwerpe en die werkswinkel het afgesluit met ’n vriendelike debat tussen Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Ermelo. Die onderwerp waaroor die leerders gedebatteer het was “Chat GPT sal bydra tot gehalte akademiese uitsette op skool”.

“Die leerders wat die werkswinkel bygewoon het, toon reeds die vermoë om goed geformuleerde argumente saam te stel, krities te dink en ook goeie debatteeringsvaardighede,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.

Die leerders sal nou terugkeer na hul onderskeie skole en saam oefen om slaggereed te wees vir die eerste Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie in Mpumalanga wat op 7 Augustus by die Hoërskool Nelspruit sal plaasvind.

“Die hoë gehalte van Woensdag se werkswinkel voorspel dat dit vanjaar ’n taai eindstryd tussen die hoërskooldebatteerders by die onvoorbereide debatskompetisie in Mpumalanga gaan wees,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings