|

Middelburg-tak laat sy lig op plaaslike aftreeoord skyn

AfriForum se Middelburg-tak skroom nie om die kwesbaarste lede van die samelewing te help beskerm nie. Dit is om dié rede dat die tak onlangs 13 nuwe sonkragveiligheidsligte by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Middelburg Tehuis, Behuising & Oewersig Aftreeoord se Rivierpark-woonstelle aangebring het.

Mark Salzwedel, voorsitter van die AfriForum-tak in Middelburg, sê kriminele elemente het al by verskeie geleenthede oor die heining by die Rivierpark-woonstelle gespring en by woonstelle probeer inbreek. Dele van die aftreeoord is nie behoorlik belig wanneer beurtkrag ingestel word nie. Hoewel die boosdoeners dikwels onsuksesvol is met hul inbrake is dit nietemin ’n veiligheidsrisiko om onvoldoende beligting in die gebied te hê.

Volgens Salzwedel is die nuwe veiligheidsligte strategiese geposisioneer om spesifieke punte in die aftreeoord te belig. Die sonkragveiligheidsligte skyn net so helder soos elektriese ligte en maak dit moontlik vir die inwoners om veilig in die aand rond te beweeg.

Hierdie projek is deel van AfriForum se verbintenis om straatligte in woongebiede te installeer om gemeenskappe weerbaar teen inbrake te maak.

Die Middelburg-tak beplan om eerskomende Saterdag (16 Maart) dieselfde soort ligte vir die Vergeet My Nie-aftreeoord te installeer. Lede van die gemeenskap wat hand wil bysit kan Mark Salzwedel by 082 898 5242 kontak.

“Ons mense se veiligheid is van kardinale belang en dit is juis waarom ons die SAVF Middelburg Tehuis, Behuising & Oewersig Aftreeoord se Rivierpark-woonstelle in hierdie verband bygestaan het. Ons kan nie toelaat dat misdadigers ons mense teister en in vrees laat leef nie,” sê Salzwedel.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum in Middelburg betrokke te raak.

Soortgelyke plasings