MRK: Genoegsame rede om Malema en EFF se  uitlatings as haatspraak en aanhitsing tot geweld te bevind; AfriForum eis optrede ná sukses van drukveldtog

Na aanleiding van die burgerregteorganisasie AfriForum se veldtog om hul lede en publiek te mobiliseer om klagtes in te dien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) in Oktober 2022, het die MRK bevind dat daar genoegsame rede is om van Julius Malema en die EFF se uitlatings as haatspraak en aanhitsings tot geweld te verklaar.  Die MRK het die EFF en Malema tien dae gegee om hierdie stellings terug te trek en om verskoning te vra.

Ten spyte van hierdie bevindinge, het die EFF het reeds ’n mediaverklaring uitgereik waarin die party weier om aan die bevinding van die MRK gehoor te gee. Die MRK het aangedui dat dit die Gelyksheidshof sal nader om ’n tussentydse interdik te bekom indien Malema en die EFF nie aan hulle bevinding gehoor gee nie.

Die insident het op 16 Oktober 2022 by die EFF se provinsiale  vergadering in die Wes-Kaap plaasgevind. Malema het onder meer tydens die geleentheid gesê: “Julle moet nooit bang wees om dood te maak nie, ’n rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word, want doodmaak is deel van ’n rewolusionêre daad.” AfriForum het dadelik ’n klag by die MRK ingedien. AfriForum het ook druk op die MRK geplaas om die saak te ondersoek deur sy lede en die publiek te vra om klagtes deur die organisasie se webtuiste in te dien.

“AfriForum beskou hierdie ontwikkeling as slegs die eerste stap om aanhitsing tot geweld en haatspraak deur die EFF en Malema stop te sit. AfriForum kan nie toelaat dat die politieke omgewing so radikaliseer dat politici openlik haatspraak teen minderhede kan pleeg sonder gevolge nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“AfriForum verwelkom die MRK se bevindinge, maar as hul veroordeling nie dringend en daadwerklik deur aksie opgevolg word nie, beteken dit nie veel om minderhede te help beskerm nie,” sluit Van Zyl af.

AfriForum monitor hierdie belangrike saak noukeurig en sal verseker dat die MRK die aksie neem waarmee dit dreig.

Soortgelyke plasings