|

Middelburg-man uiteindelik vervolg nadat twee in botsing sterf

Lede van AfriForum se privaatvervolgingseenheid was vandag in die Streekhof in Middelburg waar Xholane Singwayo teregstaan op twee klagtes van strafbare manslag. Dié klagtes volg nadat Singwayo op 31 Maart 2019 in Middelburg na bewering die dood van Steven Wilson (59) en sy seun Raymond Wilson (30) veroorsaak het. ’n Ooggetuie het gesien hoe Singwayo na bewering oor ’n rooi verkeerslig gejaag en met die oorledenes se voertuig gebots het.

Die beskuldigde het aanvanklik vandag in die hof aangedui dat hy sy eie verdediging gaan behartig, maar later – nadat landdros Deon Minnie hom daarop gewys het dat hy op ernstige klagtes teregstaan – aangedui dat hy regshulp van die staat wil hê. Die saak is uitgestel tot 24 November 2022 vir die beskuldigde om aansoek om regshulp te doen en sodat afskrifte van die dossier aan die verdediging oorhandig kan word.

Die privaatvervolgingseenheid het by hierdie saak betrokke geraak nadat die familie van die oorledenes hulle genader het omdat dit geblyk het dat die saak onbehoorlik lank sloer. Ruhan Potgieter, die skoonseun en swaer van die oorledenes, het die privaatvervolgingseenheid in November 2021 gekontak nadat hy geen kommunikasie van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ontvang het oor enige vordering in die saak nie.

“Die eenheid het verskeie skrywes aan die senior aanklaer by die Middelburg-hof gerig in ’n poging om uit te vind waarom dit só lank neem vir die NVG om ’n eenvoudige saak van strafbare manslag te vervolg, want dit is bykans ongelooflik dat ’n saak met ’n onafhanklike staatsgetuie nie die aandag gekry het wat dit verdien nie. Die enkele kere wat ons egter wel ’n antwoord op ons korrespondensie gekry het, was dit bloot om te meld dat die dossier onvolledig was en die aanklaer nog nie vervolging kon instel nie,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Niks hiervan is egter aan die familie van die slagoffers gekommunikeer nie. Dit is daarom dat die familie hulle na AfriForum se privaatvervolgingseenheid gewend het om te verseker dat die saak nie net verdwyn nie. “Ons sien in al hoe meer gevalle dat die NVG se uitsprake dat hulle ‘slagoffergesentreerd’ is, blote lippetaal is, want daar word nie eers met hierdie mense gekommunikeer oor sake waarin hulle ’n belang het nie. Aanklaers is veronderstel om ‘prokureurs vir die mense’ te wees, maar dit is nie wat die slagoffers van misdaad tans ervaar nie. Nietemin, verwelkom ons die feit dat die beskuldigde uiteindelik vandag moes verskyn en dat hy sy dade in die hof gaan moet verdedig,” sluit Vorster af.

Soortgelyke plasings