|

Munisipaliteit tjoepstil oor riool in Riebeeckstad; Welkom-tak gryp in ná dit twee weke in bejaardes se erf lê

Ná verskeie pogings deur die inwoners van Welkom om die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit te kry om die rioolpyplyn in Riebeeckstad te herstel, moes AfriForum in die bres treë vir die inwoners van dié woongebied. Die pyplyn het in Maart verstop geraak en vir nagenoeg twee weke lank rou riool in Paduastraat teruggestoot. ’n Bejaarde egpaar se erf het in dié tyd enkeldiep onder rioolwater gelê.

Riool het op 18 Maart uit ’n mangat en uit inwoners se dreine begin opstoot. ’n Bejaarde inwoner van Paduastraat het AfriForum op 27 Maart om hulp genader, aangesien die munisipaliteit ná verskeie versoeke steeds nie aandag aan die probleem gegee het nie. Die 74-jarige inwoner is een van dié wie se erf met die riool deurtrek was. Benewens die stank wat om haar huis gehang het, het die riool boonop ook in haar swembad geloop.

AfriForum het dadelik met die munisipaliteit kontak gemaak sodat daar aandag aan die humanitêre- en omgewingskrisis gegee kan word. In ’n skrywe aan die munisipaliteit het die burgerregteorganisasie geëis dat die probleem die volgende dag (28 Maart) opgeklaar moes word.

Die munisipale bestuurder het ontvangs erken, maar tot op hede is daar nie op hierdie noodroep gereageer nie.

AfriForum was verlede week genoop om ’n kontrakteur aan te stel om die vloei van riool te stop. Die kontrakteur het daarin geslaag om die verstopping te verwyder en die vloei te herstel. AfriForum gaan nou die rekening vir dié herstelwerk aan die munisipaliteit stuur vir vereffening.

“Ons kan nie toelaat dat inwoners ly weens die wanbestuur van die munisipaliteit nie. Dit is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit om ’n veilige en skoon omgewing vir almal te verseker,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek.

Die rioolstelsel is op die oomblik die Matjhabeng-munisipaliteit se grootste uitdaging, maar dit is beslis nie die enigste probleem nie. Plaaslike inwoners gaan onder meer gebuk onder swak dienslewering, voortdurende wateronderbrekings en die onwettige storting van vullis.

AfriForum se Welkom-tak is daartoe verbind om dié probleme die hoof te bied. Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings