|

AfriForum dien korrupsieklagtes in ná R176 miljoen-vermorsing in grondtransaksies

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag korrupsieklagtes teen die Tshwane-metro, Proco Management, Linked Thoughts Consulting en Faragamo Trading by die SAPD ingedien.

Dit volg nadat Proco Management, Linked Thoughts Consulting en Faragamo Trading as middelmanne opgetree het toe drie plase aan die munisipaliteit verkoop is teen pryse beduidend hoër as die markwaarde daarvan. Die sogenaamde middelmanne het volgens die titelaktes van Strydfontein, Klipfontein en Roodepoort 504 dié plase vir enkele minute besit voordat dit teen miljoene meer as die aanvanklike koopprys aan die Tshwane-metro verkoop is.

“Nagenoeg R176 miljoen van belastingbetalergeld is weens dié beweerde korrupte grondtransaksies vermors. Dit is onaanvaarbaar dat geen stappe tot dusver gedoen is teen die verkopers of die senior amptenare wat by die transaksies betrokke was nie,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se Teenkorrupsie-eenheid.

In die geval van Strydfontein (wat uit 20 hoewes bestaan) het Proco Management die oorspronklike eienaars altesaam R117 miljoen betaal. Tshwane het al 20 hoewes op dieselfde dag vir R211 miljoen gekoop, wat op ’n wins van R94 miljoen vir Proco Management neerkom.

In die geval van Klipfontein het Tshwane dié plaas vir R85,5 miljoen by Linked Thoughts Consulting gekoop. Op dieselfde dag het Linked Thoughts Consulting hierdie plaas vir R53 miljoen by die oorspronklike eienaar gekoop, wat op ’n wins van meer as R32 miljoen vir Linked Thoughts Consulting neerkom.

Faragamo Trading het Roodepoort 504 (geleë in die Bronkhorstspruit-omgewing) vir R40 miljoen by die oorspronklike eienaar gekoop en 40 dae later vir R90 miljoen aan die Tshwane-metro verkoop. Dié oordragte is egter direk ná mekaar gedoen.

Augustine Makgata, die Tshwane-metro se hoof van beplanning en ontwikkeling, het die buitensporige hoë aankooppryse van Klipfontein en Strydfontein in ’n verslag aanbeveel. In dié verslag het hy ook voorgegee dat Proco Management en Nungu Trading (Proco se stille vennoot) die eienaars van Strydfontein was. Makgata kon nie waardasies verskaf om sy prysaanbevelings te staaf nie.

Roodepoort 504 is intern deur die Tshwane-metro vir R5,9 miljoen gewaardeer, maar ekstern deur Dzilu Development Centre vir R116 miljoen gewaardeer asof die plaas reeds ontwikkel is.

“Belastingbetalers is die slagoffers in verdagte transaksies soos hierdie. AfriForum dien vandag klagtes in omdat korrupsie ’n kanker is wat tomeloos deur die land versprei – tot nadeel van alle burgers. Terwyl die skuldige partye na bewering miljoene rande binne ’n paar minute in die sak kry, laat dienslewering veel te wense oor – iets waarvoor hierdie vermorste belastinggeld liewer aangewend moes word,” sluit Taute af.

Soortgelyke plasings